SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
SuperRugby
Superreeks: Dié 5 vrae vanjaar beantwoord

Die skote klap van Vrydag weer in die Superrugby-reeks.

Hier is van die tergende vrae wat in die komende vyf maande beantwoord sal word:

Kan Stephan Lewies by die Leeus met Franco Mostert se standaarde in die lynstane volhard? Foto: Gallo Images

1. Kan die Leeus aanhou brul?

Hulle was die afgelope drie seisoene as naaswenners die keur van Suid-Afrika se spanne, maar hul diepte het ’n knou weg.

Drie lede van hul vaste vyf in 2017 en 2018 se eindstryde – die stutte Jacques van Rooyen en Ruan Dreyer, asook die slot Franco Mostert – het by Engelse klubs aangesluit.

Ander verliese is die binnesenter Rohan Janse van Rensburg en veelsydige voorryman Corné Fourie.

Danie Mienie en Carlu Sadie is stut-aanwinste, terwyl Stephan Lewies vir Mostert vervang.

Mostert, wat ’n yslike teenwoordigheid in die lynstane en ’n hoë werkverrigting het, is die grootste verlies.

Die span het steeds ’n baie goeie ruggraat met Springbokke soos Malcolm Marx (haker), Warren Whiteley (agtsteman en kaptein), Aphiwe Dyantyi (vleuel) en Elton Jantjies (losskakel).

Die groot vraag is eenvoudig of die diepte daar is om vanjaar die pad enduit te kan stap.

Gaan Duane Vermeulen die Bulle tot groter hoogtes inspireer? Foto: Gallo Images

2. Kom ’n herlewing op Loftus?

Die Bulle het met die beleggingsmaatskappy Remgro se ondersteuning hul strukture van die veld af aansienlik versterk, terwyl hulle ook hul spelerskorps met ervare Bokke soos Duane Vermeulen (agtsteman) en Schalk Brits (haker) versterk het.

Inderwaarheid kan dit met hulle nét beter gaan as in 2018 onder John Mitchell, voormalige All Black-afrigter. Hulle het ’n paar lesse onder hom geleer, maar nie meer gewen as onder sy voorganger, Nollis Marais, nie.

Daar is steeds vrae oor die Bulle se afrigtingstrukture. Loftus se base wou hê Victor Matfield moet die span afrig, maar het Pote Human aangestel nadat die oud-Bokslot die pos van die hand gewys het.

Dis ’n sleutelaanstelling en Human sal moet bewys hy kan hom op Superrugby-vlak laat geld.

Gaan Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, sy span se aandag op rugbysake kan hou? Foto: Gallo Images

3. Gaan WP-base die Stormers kelder?

Die amateur-vleuel van die WP Rugbyunie het glo vir eers misluk met sy poging om met ’n “staatsgreep” mag by die sakevleuel af te neem, maar nie voordat aansienlike skade aangerig is nie.

Spelers was omgekrap ná gerugte dat Paul Treu moontlik as die direkteur van rugby van die WP en Peter de Villiers as afrigter van die Stormers aangestel kan word. Daardie vrese is vir eers besweer.

Nietemin kan ’n krisis eersdaags opnuut kop uitsteek, want Gert Smal, die huidige direkteur van rugby, is keelvol en gaan hom glo voor sy kontrak later vanjaar verstryk by die Japanse klub Toyota Verblitz aansluit.

Indien dít gebeur, sal sy intellektuele kapitaal verlore wees en die WP opnuut om die verkeerde redes die opskrifte haal.

Of Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, ’n sterk span se fokus op rugby kan hou, is dus die groot vraag.

Die Haaie se afrigter, Robert du Preez, is by ’n kruispad in sy loopbaan. Foto: Gallo Images

4. Kan Du Preez CB-sukses herhaal?

Die Haaie het die Curriebeker-reeks gewen, maar Robert du Preez, hul afrigter, het baie om op Superrugby-vlak te bewys.

Gerugte loop dat hy ongewild onder spelers is, terwyl sy keuse van sy seun Robert jr. bo Curwin Bosch op losskakel in 2018 ’n gesprekspunt was. Daardie sweer kan op enige oomblik oopbars.

Moet geen fout maak nie – Du Preez jr. is ’n skaflike losskakel wat agter ’n stewige pak voorspelers gaan speel.

Die Haaie is tot beter rugby in staat as verlede jaar toe hulle in die kwarteindronde met 40-10 deur die Crusaders slae gegee is.

As die Superreeks gaan verloop soos deur beroepswedders voorspel word, sal die Crusaders vanjaar nogmaals met die titel wegstap. Foto: Getty Images

5. Kan Kiwi’s se houvas verbreek word?

Sedert die aanvang van die beroepsera in 1996 het Nieu-Seeland 16 van die 23 Superreekse gewen. Daarteenoor het Australië vier en Suid-Afrika, oftewel die Bulle, ’n skamele drie titels verower.

Die Crusaders, wat ’n All Black-agttal in die veld kan stoot, is beroepswedders se gunsteling om die reeks ’n derde agtereenvolgende seisoen te wen en daarna volg drie Kiwi-spanne, die Hurricanes, Chiefs en Highlanders.

Eers dán volg die Leeus en ná hulle die Waratahs. Die beroepswedders voorspel die Stormers, Bulle en Haaie gaan almal onder die onderste ses spanne tel.

Suid-Afrika se spanne verdien ’n bietjie meer krediet as dít, maar moenie veel seges in Nieu-Seeland verwag nie.

Die Kiwi’s se diepte gaan wéér oorweldigend wees.

* Berig aangepas.

Superrugby-bepalings

Meer oor:  Haaie  |  Stormers  |  Leeus  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.