Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Superreeks: Haal uit jul sakrekenaars!

Dit is daardie tyd van die seisoen wat die sakrekenaar gebruik word en ná 15 rondes van Superrugby is dit die Jaguares wat vanjaar die Suid-Afrikaanse spanne in dié groep se somme beduiwel.

Dié span van Argentinië het in 2018 verras deur tweede te eindig na die Leeus in die SA groep.

Nóg een in die sakkie vir die Jaguares. Die span van Argentinië het die afgelope twee naweke wegwedstryde teen die Hurricanes en die Waratahs in die Superreeks gewen. Foto: Getty Images

Vanjaar dreig dié kolkatte selfs om die groepfase in die eerste plek af te sluit.

Dit sal beteken dat die Suid-Afrikaanse span of spanne wat die uitspeelronde haal, wegwedstryde sal hê in die kwarteindronde.

Soos sake daar uitsien, is daar net ses ligapunte tussen die Jaguares (36) en die Stormers (30), wat vyfde en laaste op die puntelys is.

Met nog drie rondes oor voor die voorste agt spanne van die res onderskei word, is die Jaguares sterk in die binnebaan.

Die Jaguares, wat die afgelope ruk op toer Doer Onder met die Hurricanes en Waratahs afgereken het, kom Saterdag in Brisbane teen die sukkelende Reds te staan.

Daarna moet die Haaie en die Sunwolves na Buenos Aires reis vir wat altyd ’n moeilike afspraak in die Estadio José Amalfitani is.

Die Haaie is ná Saterdag se oorwinning in Durban oor die Leeus in die tweede plek op 33 punte.

Hulle moet komende Saterdag in die Haaitenk die onvoorspelbare Hurricanes se aanslag afweer, Suid-Amerika toe vlieg om die Jaguares te pak en die week daarna die Stormers op Nuweland aanvat.

Die Haaie sal onder groot druk wees as hulle teen die ‘Canes gly.

Die Bulle – derde met 32 ligapunte – het ook ’n moeilike paadjie kwarteindronde toe.

Ná Vrydag se nederlaag teen die Brumbies, moet die Bulle albei hulle volgende wedstryde in Nieu-Seeland teen die Blues en die Highlanders wen om onder die voorlopers te bly.

Dit is baie gevra van ’n span wat laas in 2013 ’n Nieu-Seelandse span daar geklop het en die laaste paar weke die deugde van Springbokke soos Jesse Kriel, Handré Pollard en Duane Vermeulen verloor het.

Die Bulle kom in die laaste groepfase-naweek op Loftus Versfeld teen die Leeus te staan.

Hoewel die Leeus (30), wat die afgelope drie jaar in die eindstryd gespeel het, saam met die Stormers onderaan die puntelys is, speel hulle die volgende twee Saterdae tuis teen die Kaapse span en die Hurricanes.

Wen hulle albei, sal net die Bulle tussen hulle en ’n plek onder die voorste agt spanne staan.

Die Stormers speel, afgesien van ’n ontmoeting met die Sunwolves op Nuweland, ook in die laaste ronde gasheer vir die Haaie.

’n Opskudding in die Leeukuil kan die Stormers maklik in die derde plek op die puntelys laat inskuif, sou die Blues die Bulle in Auckland troef.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Stormers  |  Leeus  |  Bulle  |  Superrugby  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.