Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Superreeks skop in 2020 in Januarie af!

Die Superrugby-reeks gaan aanstaande jaar die vroegste in sy geskiedenis afskop.

Die openingswedstryd in dié kompetisie, tussen die Blues en Chiefs, sal reeds op 31 Januarie plaasvind.

Die Bulle en Haaie sal mekaar volgende jaar in Durban se somershitte die eerste keer die stryd aansê. Foto: Gallo Images

Die rede hiervoor is dat daar nie soos in vorige jare ’n onderbreking van die reeks tydens die tradisionele winter-toetsvenster gaan plaasvind nie.

Die reeks sal 21 weke aaneenlopend plaasvind, met die eindstryd wat op 20 Junie beslis word.

Van volgende jaar af sal die Noordelike Halfrond-spanne hul toere na die Suidelike Halfrond eers in Julie onderneem.

“’n Vroeër begin as wat die gebruik is, is genoodsaak om die onderskeie nasionale spanne in staat te stel om minstens ’n week se voorbereiding met ál hul spelers te hê voordat die Julie-toetsreekse begin,” het Andy Marinos, uitvoerende hoof van Sanzaar (die beheerliggaam vir Superrugby en die Rugbykampioenskap) gesê.

Volgende jaar se reeks sal die laaste sien van Japan se Sunwolves, asook die omstrede konferensiestelsel wees.

Van 2021 af sal na die ou, beproefde rondomtalie-stelsel teruggekeer word.

Die Stormers speel volgende jaar vier van hul eerste vyf wedstryde op Nuweland. Foto: Gallo Images

Suid-Afrikaanse ondersteuners sal volgende jaar ook vir die eerste keer ’n Super-stryd in Januarie kan bywoon, met die Haaie wat op Vrydag 31 Januarie in Durban gasheer vir die Bulle speel.

Dié twee spanne was vanjaar Suid-Afrika se enigste verteenwoordigers in die uitkloprondes, maar albei het in hul kwarteindstryde vasgeval.

Gegewe die hitte en humiditeit wat daardie tyd van die jaar aan die KwaZulu-Natalse kus ondervind word, beloof dit om ’n uiters uitdagende derby te wees.

Die Stormers sal hul veldtog op 1 Februarie op Nuweland teen die Hurricanes begin, terwyl die Leeus sommer in die eerste week al hul tasse vir ’n besoek aan Buenos Aires moet pak. Die Leeus sal daar – ook op 1 Februarie – met die Jaguares, vanjaar se verslane finalis, kragte meet.

Die Leeus sal die volgende Saterdag (8 Februarie) hul eerste tuiswedstryd, teen die Reds, speel.

Die Bulle, daarteenoor, sal eers op 22 Februarie die eerste keer op Loftus in aksie wees. Hul tweede stryd is nóg ’n moeilike SA derby, teen die Stormers op Nuweland, terwyl hulle in die derde week van die kompetisie reeds hul eerste loslootjie het.

Die Stormers, wat die laaste paar jaar ’n besonder moeilike program gehad het, sal volgende jaar ’n bietjie verligting kry. Vier van die Kapenaars se eerste vyf kragmetings is op Nuweland. Die enigste wegwedstryd in die eerste vyf weke is op 15 Februarie teen die Leeus op Ellispark.

Die Leeus moet volgende jaar sommer met die intrapslag besoek aan die Jaguares se tuisveld in Buenos Aires aflê. Foto: Getty Images

Die Stormers se eerste oorsese wedstryd is op 21 Maart teen die Jaguares in Buenos Aires. Daarna het hulle nog drie tuiswedstryde, plus ’n loslootjie tussendeur voordat hulle op 25 April na Australasië en Japan vertrek. Oorsee sal hulle egter met wedstryde teen die Chiefs, Crusaders, Brumbies en Sunwolves hul hande vol hê.

Die Haaie sal die eerste Suid-Afrikaanse span wees wat na Australasië vertrek, met hul eerste wedstryd Doer Onder reeds op Vrydag 7 Februarie teen die Highlanders in Dunedin. Daarna volg toerwedstryde teen die Hurricanes, Rebels en Reds.

Die Leeus begin hul Australasiese toer op 28 Februarie teen die Waratahs in Sydney en speel daarna teen die Rebels, Blues en Highlanders.

Die Bulle se besoek Doer Onder begin op 14 Maart teen die Reds in Brisbane, met toerwedstryde teen die Waratahs, Hurricanes en Chiefs wat daarna volg.

Die laaste ligawedstryd van aanstaande jaar se reeks sal die Noord-Suid-derby tussen die Bulle en Stormers op Loftus Versfeld wees.

Die kwarteindronde is op 6 Junie en die halfeindronde die naweek daarna.

– Sportredaksie, Reuters

Klik hier om die volledige Superrugby-bepalings vir 2020 af te laai.

Meer oor:  Haaie  |  Stormers  |  Leeus  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.