Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Superrugby se 5 groot gesprekspunte

Vanjaar se Superrugby-reeks sal waarskynlik vir ’n rooikaart in die eindstryd tussen die Leeus en Crusaders onthou word, maar die seisoen het veel meer om die lyf gehad as ’n oortreding deur die Leeus-flank Kwagga Smith.

So hier, in geen spesifieke volgorde nie, is die vernaamste gesprekspunte nadat die eindfluitjie vir die 2017-reeks geblaas het.

Sal die Leeus weer so ’n goeie seisoen beleef soos in 2017? Foto: Gallo Images

1. Het die Leeus hul groot kans op titelglorie verspeel?

Daar kan baie goeie dinge van Johan Ackermann se troepe gesê word, maar ’n mens kan nie help om te wonder of 2017 hul goue geleentheid was om die kroon te verower nie.

Nie net het die Leeus ’n prysenswaardige spankultuur en goeie bestuur nie, hulle het ook vanjaar 92 drieë gedruk, die meeste breekslae van enige span bewerkstellig, die bal meer as enige ander span gedra, verreweg die meeste veld met hul stormlopies gewen, die meeste verdedigers van enige span geklop, die derde beste lynstaan in die reeks en die naasbeste sukseskoers by die afbreekpunte gehad.

Maar tog kon hulle nie die Superrugby-trofee omhoog hou nie. Dit was die tweede agtereenvolgende Super-eindstryd wat die span verloor het.

Sal die hegte kultuur wat gevestig is onder Ackermann, wat nou na Engeland verhuis, die span in staat stel om dit derde keer skeepsreg te maak?

Dit sal ’n groot uitdaging wees, omdat die span nou weer ’n oorgangsfase gaan beleef. Maar hopelik gebeur dit, want ’n span wat die afgelope twee seisoene tot so ’n mate oorheers het, verdien om met ’n trofee beloon te word.

Die Rebels kan dalk nog aan Superrugby deelneem, al is hulle beduidend swakker as enige Suid-Afrikaanse span. Foto: Gallo Images

2. Ons moet seker oor die Aussies praat . . .

Om slegs een Australiese franchise die trekpas te gee, terwyl twee van Suid-Afrika gepos is, doen absoluut niks vir die geloofwaardigheid van Sanzaar se uitgerekte, verwarrende en grootliks vervelige toernooi nie.

Die statistieke kan in hierdie verband die praatwerk doen. Twee Australiese spanne (Rebels en Force) het die minste en tweede minste drieë in die reeks gedruk. Twee Australiese spanne (Force en Brumbies) het die minste breekslae in die reeks bewerkstellig.

Die Reds (wat hoegenaamd nie genoem word as ’n span wat die trekpas kan kry nie) het die tweede minste kere die bal gedra. Drie Australiese spanne (Force, Brumbies, Reds) is aan die onderpunt van die lys wat veld gewen met stormlopies betref en dieselfde geld die Rebels, Brumbies en Force vir verdedigers wat geklop is.

Nog ’n skokkende statistiek is dat die vyf Australiese spanne vanjaar sáám slegs 21 wedstryde kon wen. En die meeste daarvan was toe hulle teen mekaar gespeel het!

Die Kings en Cheetahs, wat nou hul heil in Pro14-rugby moet vind, troon in byna elke kategorie bo die Aussies uit. Indien die integriteit van die reeks in ag geneem word, moet daar gevra word hoe daar slegs ’n enkele Aussie-span in die slag kan bly, terwyl twee SA spanne ’n ander heenkome moet soek.

3. Rugby se grondbeginsels bly belangrik

Die Leeus, wat basies alle aanvallende kategorieë oorheers het, het steeds tweede teen die Crusaders geëindig.

Die Crusaders, wat in die meeste van dié kategorieë tweede viool gespeel het, het in twee belangrike aspekte bo die res uitgetroon.

Die Crusaders se vaste skrums, lynstane en verdediging was aansienlik beter as die Leeus s’n.

Dus kan daar geargumenteer word dat selfs die Superrugby-reeks, wat wyd geprys word vir sy aanvallende deugde, in die loopgrawe van die vaste fasette en heldhaftige verdediging gewen kan word.

Die Crusaders se spelstyl was baie minder flambojantas hul afrigter, Scott Robertson, se danspassies ná hul oorwinning. Foto: Gallo Images

4. ’n Opwaartse kurwe

Die trofeekaste is uiteraard nog leeg op Ellispark, Nuweland, Kingspark en Loftus, maar daar was dié seisoen darem bemoedigende tekens.

Afgesien van hul eindstrydnederlaag was die Leeus waarskynlik die beste span in die reeks, die Stormers het twee keer Nieu-Seelandse spanne geklop en die Haaie het gewys dat daar met ’n plan in Durban gewerk word.

Die Bulle het ook ná ’n lang gesukkel besluit om hul huis in orde te kry.

Dit sal hopelik ook in die toekoms tot die voordeel van Springbok-rugby strek.

Makazole Mapimpi, spogvleuel van die Kings, was een van die vondse van die seisoen. Foto: Gallo Images

5. Europa kry nuwe King(s)

Bondig gestel: Die Kings was die storie van 2017 se Superrugbyreeks. ’n Saamgeflanste span van weggooi-spelers wat die wêreld aan die brand gespeel het en ’n klomp onbekende name aan huishoudings in Suid-Afrika bekend gestel het.

Deon Davids se troepe het ironies genoeg in hul laaste jaar van Superrugby uiteindelik aan hul visie – om ’n bastion vir die ontwikkeling van swart rugbyspelers te wees – voldoen en belowende spelers soos Makazole Mapimpi, Andisa Ntsila en Masixole Banda opgelewer.

Daarbenewens het spelers soos Lionel Cronjé en Chris Cloete hul aandele internasionaal laat styg.

Dis jammer die klas van 2017 het nou weer heeltemal uitmekaar gespat, want hy sou gewis in die Pro14-reeks vir nog ’n paar verrassings kon sorg.

Meer oor:  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.