Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers-afrigters moet mooi trap
Dawie Snyman, agterlyn-afrigter van die Stormers. Foto: Gallo Images

Die Stormers se afrigtingspan kan summier in die pad gesteek word as die Kapenaars nie die uitkloprondes van aanstaande jaar se Superrugby-reeks haal nie.

Netwerk24 het betroubaar verneem dat die hoofafrigter, John Dobson, se bestuurspan vandeesweek eers kontrakte met die WP Rugbyunie (WPRU) gesluit het.

John Dobson, hoofafrigter van die Stormers. Foto: Gallo Images

Daar is streng prestasie-klousules vir die afrigters, wat ná ’n lang gesloer met die kontrakteringsproses min ruimte vir onderhandeling gehad het.

Dawie Snyman (agterlyn-afrigter) en Norman Laker (verdediging) was soos Dobson vroeër vanjaar gesogte afrigters, maar het toe nie aan die lokaas van ander unies gebyt nie.

Dié lojaliteit het hulle egter min in die sak gebring, met hul salarisse wat glo nie eens markverwant is nie. Voorts kry hulle saam met die streng prestasieklousules glo ook nie jaarlikse verhogings nie.

’n Bron het aan Netwerk24 gesê dat daar in die tweede jaar van dié afrigters se kontrakte van hulle verwag word om die Stormers tot in die halfeindronde van die kompetisie te voer. Dit sluit Dobson in.

Dié klousules vra baie, want die Stormers kon die afgelope twee seisoene nie hond haaraf in die reeks maak nie. Hulle het boonop laas in 2012 die halfeindronde gehaal.

Boonop het die Stormers nog geen noemenswaardige aanwinste vir volgende seisoen nie. Daar is sprake dat die vleuel Leolin Zas en senter Michal Haznar – onderskeidelik van die Haaie en Griekwas – vir die Stormers beskikbaar gaan wees. Hulle is egter nie die tipe hoëprofiel-spelers wat ’n span nodig het om saam met die groot honde van Superrugby te kan blaf nie.

Norman Laker, verdedigingsafrigter van die Stormers. Foto: Gallo Images

Die WP het ook reeds nege spelers verloor, wat vanjaar vir die Stormers beskikbaar was. Dit sluit in drie Springbokke, Eben Etzebeth (slot), Damian de Allende (senter) en Sikhumbuzo Notshe (losvoorspeler), in.

Ander verliese is Craig Barry (heelagter-vleuel), Corné Fourie (loskopstut/haker), Michael Kumbirai (vaskopstut), SP Marais (heelagter/vleuel), Kobus van Dyk (flank) en EW Viljoen (senter).

Verlede jaar was Fourie die enigste senior aanwins.

Dat die Stormers se bestuurspan eers vandeesweek gefinaliseer is, vertel die verhaal van ’n unie wat lamgelê word deur binnegevegte.

Die kern van die probleem is ’n voortslepende magstryd vir beheer oor beroepsrugby tussen verkose beamptes en die sakevleuel se direksie.

Etlike bronne in die binnekringe van die WP het aan Netwerk24 gesê dat daar ’n “oorlog” tussen die WPRU se president, Zelt Marais, en die uitvoerende hoof, Paul Zacks, woed. Zacks bevind hom in die onbenydenswaardige posisie dat hy die uitvoerende hoof van albei strydende entiteite is. Daar is volgehoue gerugte dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat hy gepos word.

Die magstryd kan straks Vrydag op die spits gedryf word wanneer die direksie vergader. Beheer van beroepsrugby by die unie is glo ’n belangrike agendapunt. Van die lede van die uitvoerende raad, onder meer Marais, dien ook op die direksie, wat dit ’n verdeelde liggaam maak.

SP Marais

Meer oor:  John Dobson  |  Zelt Marais  |  Dawie Snyman  |  Kaapstad  |  Kontrakte  |  Afrigters  |  Wpru  |  Wp  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.