Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Swys de Bruin loof Tyrone Green

“Dankie, Tyrone.”

Met hierdie woorde het die Leeus se hoofafrigter, Swys de Bruin, beskryf wat vir hom die deurslaggewende oomblik was wat aan sy span ’n naelskraapsege met 29-28 oor die Waratahs besorg het in Saterdag se Super-stryd op Ellispark.

Swys de Bruin staan die media te woord ná die Leeus se naelskraapse sege oor die Waratahs. Foto: Gallo Images

Dit was toe die plaasvervanger-vleuel Tyrone Green die bal naby sy doellyn met ’n duikslag nader gehark het en dit voor ’n paar aanstormende Waratah-aanvallers gegaps het om ’n sekere drie te keer.

“Sjoe, dit was naby,” het De Bruin gesê. “Tyrone het daar wonderlike werk gedoen en ons gered.”

De Bruin was vol lof vir al sy plaasvervangers, wat hy glo ’n “massiewe verskil” gemaak het.

“Dit wys maar net weer eens dat niemand onvervangbaar is nie. Ons funksioneer as ’n span en niemand is groter as die spel nie,” het hy gesê. Hy het dit juis gesê in reaksie op ’n vraag of hy nie gemeen het dit is ’n groot waagstuk om die Springbok-skakelpaar Elton Jantjies en Ross Cronjé gelyktydig van die veld te neem en met Nic Groom en Shaun Reynolds te vervang nie.

Nog iets wat De Bruin glo ’n groot rol in hul sege gespeel het, was die feit dat hulle slegs drie strafskoppe afgestaan het teenoor die 13 van die Waratahs.

“Hier het Wazza (Warren Whiteley) ’n groot rol gespeel en was hy besonder hard op die spelers om seker te maak hulle staan nie strafskoppe af nie. Die wedstryde wat ons hierdie seisoen verloor het, was waar die dissipline nie goed was nie en ons het dit as ’n prioriteit gesien in hierdie kragmeting,” sê hy.

Daryl Gibson, die Waratahs-afrigter, het op sy beurt weer kwaai gebrom oor die eensydige strafskoptelling.

“Heelwat van die beslissings hier teen die einde van die wedstryd het nie ons kant toe gegaan nie. Met daardie strafskoptelling teen ons kon ons net geen momentum kry nie.

“Ek dink regtig daai strafskoptelling teen ons was kras. Ek wil egter nie kla en verskonings soek nie, maar veral daardie strafskop teen ons wat hulle oorgeskop het om met 29-28 voor te gaan, steek my dwars in die krop,” sê hy.

Daar was volgens hom nie duidelikheid oor ’n duikslag en of dit bloot net ’n losgemaal was nie.

Die skeidsregter, Egon Seconds, wat juis kwaai onder kritiek deurgeloop het oor ’n beslissing teen die Leeus toe hulle vroeër in die reeks teen die Stormers op Nuweland verloor het, het ’n slag ook ’n blatante hoogvat op ’n Leeu misgekyk met die Leeus Saterdag sterk op die aanval.

Puntemakers:

Leeus 29 (19): Drieë: Aphiwe Dyantyi, Stephan Lewies, Kwagga Smith, Courtnall Skosan. Doelskoppe: Elton Jantjies (3). Strafdoel: Shaun Reynolds.

Waratahs 28 (21): Drieë: Nick Phipps, Michael Hooper, Rob Simmons, Tom Staniforth. Doelskoppe: Bernard Foley (4).


Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.