Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Swys trots op Leeus se karakter

Die karakter wat sy Leeus-span Saterdagaand op Ellispark aan die einde van hul Superrugby-stryd teen die Haaie gewys het, is vir Swys de Bruin ’n riem onder die hart.

Die Leeus se kaptein, Warren Whiteley, en die span se afrigter, Swys de Bruin, gesels met die media ná afloop van die Johannesburgers se sege teen die Haaie Saterdag op Ellispark. Foto: Gallo Images

Die Leeus het dié stryd met 26-19 gewen nadat hulle teen die einde hul lyn verwoed moes verdedig.

“Daar is één ding met dié span – wanneer ons rug teen die muur is, sal ons altyd opstaan, terugveg en karakter toon,” het De Bruin, die hoofafrigter, ná die stryd gesê.

Met die Haaie op die aanval was dit die Leeus se twee plaasvervanger-flanke, Marnus Schoeman en Hacjivah Dayimani, wat op twee kritieke tye omgekeerde besit bewerkstellig het.

“Daar teen die einde toe Hacjivah en Marnus Schoeman balle in die doodsnikke gesteel het, was baie belangrik. Dit sal hul selfvertroue baie goed doen,” sê De Bruin.

Hoewel De Bruin erken het sy span sou graag meer opwarmstryde wou speel om vir dié stryd te slyp, was hy nietemin tevrede met die samespel.

“Die aanvallende spel was baie goed, maar die voorspelers het uitstekend gespeel. Ons het baie goed geskrum. Toe ons hoor die Haaie gaan met ’n groot skrumvertoning kom, het ons ons voorberei om goed daar te vaar. Ek is baie tevrede met die skrums.”

Die Leeus het ook bittermin strafskoppe afgestaan.

“Dissipline is baie belangrik. Wanneer jy ’n strafskop weggee, het dit ’n rimpelingseffek. Ons het voor die seisoen daaroor gepraat om baie meer op ons dissipline te fokus en ek is trots op die ouens vanaand wat dít betref.”

Die breier sê die Speler van die Wedstryd, Aphiwe Dyantyi, wat ’n puik drie gedruk het, is ’n speler met ’n groot toekoms.

Aphiwe Dyantyi is Saterdag as die speler van die wedstryd aangewys. Foto: Gallo Images

“Aphiwe is ’n ou wat julle gerus kan dophou. Hy het baie goed gespeel, net soos die ander jong spelers.”

Warren Whiteley, die Leeus se agtsteman en kaptein, sê hy was met tye gefrustreerd met die foute wat die Leeus gemaak het.

“Dit was soms ’n bietjie frustrerend, maar dit is wat jy van ’n eerste wedstryd verwag.

“Ek is tevrede met die uitslag. Die Haaie is ’n span van gehalte. Ons het geweet dit gaan ’n wedstryd met baie druk wees. Ons het onsself met tye onder baie druk geplaas. Ons was soms ons eie grootste vyand.”

Dit was vir Whiteley lekker om weer vir die Leeus te speel nadat hy die helfte van verlede jaar se seisoen weens ’n besering misgeloop het.

“Ek het dit baie geniet om weer Superrugby te speel. Dit is so ’n groot voorreg om vir dié unie en span te speel.”

Robert du Preez, die Haaie se breier, het gemor oor sy span se verbroude kanse.

“Ons het baie geleenthede gehad, maar ons kon nie afrond nie. Ons was nie geduldig genoeg nie en ek is nie tevrede daarmee nie.

“Die positiewe aspek is dat ons, al het ons nie goed gespeel nie, steeds tot die einde in die stryd was,” sê Du Preez.

Superrugby-bepalings.

Superrugby-uitslae.

Superrugby-puntelyste.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Haaie  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.