Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Swys wil nie met Whiteley waag nie

“Ek kry die arme ou regtig jammer.”

Dít is hoe die Leeus se hoofafrigter, Swys de Bruin, Donderdag gereageer het toe hy moes aankondig dat die beseringspook steeds soos ’n neet aan sy kaptein en agtsteman, Warren Whiteley, klou.

Die veelsydige losvoorspeler Kwagga Smith sal Saterdag, in Warren Whiteley se afwesigheid, die Leeus se nr. 8-trui teen die Highlanders dra. Foto: Gallo Images

Die kniebesering wat hom op die toer in Nieu-Seeland gepla het, het – nadat hy sy terugkeer verlede Saterdag teen die Waratahs gemaak het – weer opgevlam en is sodanig geswel dat hy nie fiks verklaar kon word om die Highlanders Saterdagmiddag op Ellispark in Johannesburg die stryd aan te sê nie.

“Ons moet hom nou net eenvoudig reg kry. Dit is baie frustrerend dat Warren nie kan speel nie, want hy is ’n besielende leier en baie inspirerend. Dit is ongetwyfeld ’n gevoelige slag wanneer hy nie daar is nie,” sê De Bruin.

“Tog moet ons maar net leer dat niemand onvervangbaar is nie en as ’n span saamstaan. In Malcolm (Marx, die haker) het ons ’n baie goeie plaasvervanger as kaptein, wat ook weet hoe om die spelers te motiveer,” sê hy.

’n Whiteley-lose Leeus-span toon vier veranderinge van die een wat die Waratahs net-net met 29-28 geklop het.

Al die skuiwe is in die agttal, met ’n splinternuwe lostrio wat ingesluit word.

Kwagga Smith skuif van flank na agtsteman in Whiteley se plek, terwyl sy plek langs die kant van die skrum deur Cyle Brink geneem word.

Hy het ook sy knie op die toer in Nieu-Seeland beseer en dit is nou die eerste keer in drie wedstryde wat hy weer gaan speel.

Marnus Schoeman sal die nr. 6-trui dra in die plek van Vincent Tshitsuka, wat afskuif na die plaasvervangersbank.

Dylan Smith, wat soos Whiteley die laaste twee jaar hand aan hand met die beseringspook loop, is terug in die beginspan ná ’n onlangse wangbesering en vervang vir Sti Sithole as loskopstut.

“Dit help net nie ons waag enige kans met Warren nie. Dit is nou tyd dat hy behoorlik herstel van sy besering en eers weer speelkans kry wanneer hy honderd present is,” sê De Bruin.

Hacjivah Dayimani, wat verlede week vir die Goue Leeus XV teen die Valke in ’n voorwedstryd senter gespeel het, is op die plaasvervangerbank en De Bruin sê hy kan as losvoorspeler óf in die agterlyn ingespan word.

“Hacjivah was baie goed en stewig op senter en met hom op die plaasvervangersbank verbreed dit ons opsies,” sê die afrigter.

Teen die tawwe klomp van die Highlanders kan die terugkeer van Brink ’n stukkie goeie nuus wees te midde van die donker wolk wat daar weer oor die groep hang met die nuus oor Whiteley.

Leeus: Andries Coetzee, Courtnall Skosan, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Aphiwe Dyantyi, Elton Jantjies, Ross Cronjé, Kwagga Smith, Cyle Brink, Marnus Schoeman, Marvin Orie, Stephan Lewies, Carlu Sadie, Malcolm Marx (k), Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Sti Sithole, Johannes Jonker, Vincent Tshituka, Hacjivah Dayimani, Nic Groom, Shaun Reynolds, Tyrone Green.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby  |  Waratahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.