Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Taai Super-eindstryde verwag

Twee titaniese eindstryde word verwag wanneer die Nieu-Seelandse en Australiese Superrugby-reekse hierdie naweek eindig.

In Christchurch kom die verdedigende kampioen, die Crusaders, Saterdag teen die Chiefs te staan – en in Brisbane is dit die Reds en die Brumbies wat mekaar pak.

Scott Robertson mik met sy Crusaders-span na ’n vyfde agtereenvolgende titel. Foto: Getty Images

Al vier spanne wat in die eindstryde gaan speel, het skaars ’n week tyd om hul seer lywe te laat rus voor die Trans-Tasmaanse reeks, waarin Nieu-Seeland en Australië se topspanne teen mekaar gaan speel.

Die Reds speel reeds volgende Vrydag teen die Highlanders. Die volgende dag pak die Crusaders die Brumbies en die Chiefs die Western Force.

Maar vir nou is die fokus op die twee lande se onderskeie eindstryde en op die oog af behoort dit twee mededingende kragmetings te wees.

Hoewel die Crusaders die gunsteling is om weer in die Nieu-Seelandse reeks koning te kraai, is Clayton McMillan, die Chiefs se breier, vol vertroue dat sy span die knoop kan deurhak.

“Enige span kan op enige dag geklop word en ons het dit bewys. Ons gaan hierdie naweek Christchurch toe met die vertroue en geloof dat ons die Crusaders kan troef,” het McMillan aan Reuters gesê.

“Die Crusaders het die maatstaf in die reeks gestel en ons respekteer hulle, maar ons het die reg verdien om in die eindstryd te wees en dis ons werk om Saterdag uit te haal en te wys wat ons kan doen."

Scott Robertson, die Crusaders se afrigter, sal hoop dat sy span vir die vyfde agtereenvolgende seisoen as kampioen gekroon kan word.

Dis in hierdie stadium onseker of Robertson volgende seisoen weer in Nieu-Seeland gaan afrig en of hy sy vlerke gaan sprei.

Die knap losskakel James O’Connor sal Saterdag die Reds in die Australiese Superrugby-eindstryd teen die Brumbies op die veld lei. Foto: Getty Images

Die Reds sal intussen in Brisbane probeer wraak neem vir die nederlaag wat hy in verlede jaar se eindstryd van die Australiese reeks teen die Brumbies gely het.

Die Brumbies het hierdie seisoen reeds twee keer teen die Reds verloor, maar dit was albei wedstryde waarin hulle net sowel kon gewen het.

Daar sal glo 40 000 toeskouers by die eindstryd in Brisbane toegelaat word.

Brad Thorne, die Reds se afrigter, het vir ’n ligte verrassing gesorg deur Liam Wright, wat die span die afgelope paar wedstryde aangevoer het, af te skuif plaasvervangersbank toe. Die ervare losskakel James O’Connor sal nou die Reds aanvoer.

Die Brumbies het ’n knou gekry met twee van hul Wallabies, die stut James Slipper en die flank Pete Samu, wat weens beserings nie vir die kragmeting beskikbaar is nie.

• Albei eindstryde sal Saterdag op SuperSport Grandstand (201) en SS Rugby (211) uitgesaai word.

Die wedstryd tussen die Crusaders en die Chiefs begin om 09:05 en die een tussen die Reds en die Brumbies om 11:45.

Meer oor:  Reds  |  Superrugby Au  |  Brumbies  |  Crusaders  |  Superrugby  |  Superrugby Aotearoa  |  Chiefs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.