Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Terugstaan is nie ’n opsie, beloof Pote

Pote Human, afrigter van die Bulle, was nog nooit iemand vir ingewikkelde rugbyteorieë nie.

So ook is sy resep om Saterdag in die Superreeks op Nuweland aan die wenkant te wees, eenvoudig: “Jy móét fisiek oorheers. Jy kan eenvoudig nie vir die Stormers terugstaan nie.”

Selfs al is die Stormers voorlangs sonder hul kaptein, Siya Kolisi en die Bok-haker Bongi Mbonambi.

Hoewel die Springbok Trevor Nyakane sy terugkeer in die Bulle-voorry maak, is die fokus eerder op die span se poging by die afbreekpunte.

Trevor Nyakane dra Saterdag op Nuweland die Bulle se nr. 3-trui. Foto: Gallo Images

Die Bulle was Vrydagaand in die afwesigheid van Marco van Staden nie opgewasse in dié afdeling teen die Haaie nie.

Human sê dit was die afgelope week groot prioriteit by Loftus.

“Ons het vir spelers gesê hulle sal met groter intensiteit moet speel.

“ ’n Speler soos Abongile (Nonkontwana) is beslis beter as wat hy verlede week was en Jeandré (Rudolph) kan ’n goeie baljagter wees en moet daardie rol beter vervul.”

Hy wou nie ná een nederlaag benoude spronge met sy spankeuses maak nie, sê Human.

“Ons het die Haaie twee maklike kanse gegee om te gaan druk, terwyl ons die bal aangeslaan het met ’n oop doellyn in sig.

“Ek gee nie om om te verloor nie, maar om só te verloor is onaanvaarbaar.

“Dit gesê, ek wil die ouens nog ’n kans gee. Ek glo eerlikwaar nie dit was een of twee spelers se skuld dat ons verloor het nie, die spanpoging was nie goed genoeg nie.”

Hoewel Human voorspel dit sal ’n voorspelerstryd wees, gaan die Bulle Kaap toe om drieë te druk.

“Ons kon nie verlede week afrond nie, maar ons verwag dat die toestande anders sal wees.

“Ons oefen om drieë te druk en nie om balle weg te skop en te verdedig nie.”

Maar dit is voor waar die grondslag vir Warrick Gelant, Cornal Hendricks, Rosko Specman en kie. gelê moet word.

Human sê hy is in die opsig verheug om Nyakane terug te hê vir die skrumstryd teen die Stormers.

Dié 30-jarige stut, wat sy sesde Superrugby-veldtog by die Bulle ingaan, verwag ’n warm ontvangs teen sy Bok-spanmaat, Steven Kitshoff.

Dit is sy eerste wedstryd terug in die beginspan nadat ’n kuitbesering verlede jaar sy Wêreldbeker-deelname vroegtydig beëindig het in Japan.

“Ons almal weet wat gebeur as jy Kaapstad toe gaan. Ek speel al lank saam met en teen Kitshoff. Hy is ’n goeie rugbyspeler en is baie gedug in die skrums.

“Ons albei stel hoë standaarde en het dit onlangs nog saam gedoen (vir die Springbokke in die Wêreldbeker-toernooi).

“Hy gaan dit nie vir my maklik maak nie en ek moet seker maak dit is ook nie vir hom maklik nie,” sê Nyakane.

Human sê Kolisi en Mbonambi verswak nie die Stormers nie.

“Die Stormers het soveel diepte. Hulle sal vir Kolisi mis, want hy is van wêreldgehalte. Bongi ook.

“ ’n Ou soos Scarra (Ntubeni) wat vir Bongi vervang is egter byna om te ewe.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Stormers  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.