Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Tongaan ook verbaas oor Bulle-kontrak

Dit was nie net ondersteuners in Pretoria wat verbaas was dat die Bulle ’n Tongaan gekontrakteer het nie.

Nafi Tuitavake toe hy nog vir die Northampton Saints in die Engelse Premierliga gespeel het. Foto: Getty Images

Nafi Tuitavake was ewe uit die veld geslaan toe sy agent hom einde 2019 meegedeel het die Bulle is op sy spoor.

Dié 31-jarige veelsydige agterspeler het in daardie stadium weer begin oefen in Nieu-Seeland nadat hy sy arm in Tonga se Wêreldbeker-groepwedstryd teen Engeland gebreek het.

“My agent het my laat weet die Bulle stel belang en ek het gesê, ja kom ons gee dit ’n kans.

“Ek was steeds verras toe die Bulle drie dae later ’n aanbod aangestuur het.

“Dit het alles baie vinnig gebeur en nou is ek hier. Ek probeer nou om net eers aan die son en lugdruk gewoond te raak,” het Tuitavake Maandag by Loftus Versfeld gesê.

Om weer Superrugby te speel, is ’n geleentheid wat hy die meeste van wil maak ná ’n paar seisoene in Frankryk en Engeland.

“Die Bulle is ’n wonderlike span en my enigste besoek aan Loftus was saam met die Crusaders (in 2015) en dit hou nie goeie herinneringe in nie.

“Dit is nie ’n maklike plek vir besoekende spanne nie, onthou ek.”

Hy is vol vertroue dat die armbesering nie ’n invloed op sy vertonings sal hê nie.

Ek het destyds by die Crusaders ook die voorreg gehad om Dan Carter se kamermaat op toer te wees. Ek was so stil moontlik en het die hele tyd geluister na wat hy kon bied.
Nafi Tuitavake

“Ek was bekommerd daaroor, want dit was my eerste groot besering.

“En dit (die kans by die Bulle) het so vinnig op my pad gekom. Die uitdaging is sekerlik om selfvertroue te kry en nie te veel daaraan te dink nie.

“Ek het ’n volle week se oefening gehad en ek het kontak gemaak sonder enige probleme, so dit is nie iets wat my gaan terughou nie.”

Tuitavake sê hy is bevoorreg om die jonger broer van ’n voormalige All Black, Anthony, te wees.

“Ja, ek was gelukkig om in sy skadu te kon beweeg en soveel moontlik by hom te leer.

“Ek het destyds by die Crusaders ook die voorreg gehad om Dan Carter se kamermaat op toer te wees.

“Ek was so stil moontlik en het die hele tyd geluister na wat hy kon bied.”

Tuitavake is Bulle-kontrei toe gelok (hy het ’n kontrak van twee jaar) om die Springbok-senter Jesse Kriel se skoene te vul.

“Ek besef dit is groot verwagtinge, maar ek is vas oortuig ek kan iets bydra. Dit is nou nadat ek die hitte en die lugdruk baas geraak het.”

Hy beplan om Pretoria “stadig, maar seker” te ontdek en in die proses ook leer hoe om te braai, sê die Bulle se geskiedkundige eerste Tongaanse invoerproduk.

Meer oor:  Nafi Tuitavake  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.