Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie vir vyfde keer hangoor by huis
Trane in die Tenk teen Hurricanes

Die Haaie se vyfde tuisnederlaag in die Superrugby-reeks vanjaar plaas Robert du Preez se span onder druk wanneer hulle die komende naweek in Buenos Aires die Jaguares aandurf.

Gister het die Hurricanes die Haaie se tuisveld verower toe die Kiwi’s hul Suid-Afrikaanse opponente met 30-17 afgestof het.

Die Haaie-senter Lukhanyo Am lanseer homself van die grond om die Hurricanes se Ngani Laumape te probeer stuit, terwyl sy spanmaats toekyk.Foto: Gallo Images

“Ons moet nou altwee ons oorblywende wegwedstryde wen,” het die Haaie se afrigter gisteraand ná sy span se nederlaag gesê.

“Ons moes die afgelope paar jaar in Argentinië gaan speel en ons het die Jaguares al daar oorkant geklop, so ons kan nie hulle amperse ‘internasionale’ status as ’n verskoning gebruik nie. Ons moet eenvoudig daarmee saamleef.”

Volgens die Haai-breier het sy span teen die Hurricanes weer hul harte uitgespeel, maar ’n gebrek aan “respek vir die bal” het hulle op die ou einde duur te staan gekom.

“Ek was baie beïndruk met ons terugvegpoging toe ons 3-20 agter was in die eerste helfte, en weer met die agterstand wat vroeg in die tweede skof na 17-20 gekrimp het, het ons ’n kans gehad om die voortou te neem en dalk selfs die wa deur die drif te trek.

“Ons het egter gans te veel balbesit afgestaan, veral in die rooi sone. Dis van kardinale belang dat ons leer om die bal deur heelwat meer fases te neem.”

Du Preez se eweknie, John Plumtree, wat self die Haaie vir etlike seisoene afgerig het, het bemoedigende woorde gehad vir die Durbaniete op die vooraand van hul tog na Buenos Aires.

“Die Jaguares beskik oor hope ervaring, hulle het goeie agterspelers, hulle vaste fasette werk uitstekend en hulle is geweldig fisiek by die afbreekpunte,” het Plumtree, wie se span twee weke gelede tuis teen die Argentyne vasgeval het, toegegee.

“Maar, die Haaie beskik oor die nodige skietgoed om die Jaguares deeglik die stryd aan te sê in elk van die fasette.

“Boonop vaar die Haaie weg van die huis af goed, dus moet hulle net deeglik beplan en hul reis só beplan dat hulle genoegsame hersteltyd het voor die wedstryd.”

Plumtree meen sy span het gister in die tweede helfte gesukkel, maar nogtans punte behaal die min kere wat hulle in die kwartgebied gekom het.

“Die Haaie het ons ook laat bontstaan met hulle teenaanvalle van ons skopwerk af.

“Dus was dit ’n groot verligting toe ons uiteindelik die knoop kon deurhak met Wes (Goosen) se drie.”

Vir die Haaie was daar ’n paar “groot oomblikke” soos met hulle twee terugslaan-drieë, een kort voor en die ander een vier minute ná rustyd, maar selfs dit kon nie die tuisspan die nodige momentum gee nie.

Met die humeure wat gereeld opgevlam het, was die stryd voorlangs vuurwarm en fel, maar die Haaie kon nooit die oorhand kry nie, en dit het hulle duur te staan gekom.

Die tuisspan het vroeg-vroeg ’n paar belowende aanvalle geloods, maar telkens het die laaste aangee maar net verlore gegaan, en so ook ’n punte-kans.

Die Haaie het ook twee keer in die eerste helfte verkies om strafskoppe binne trefafstand eerder by die kantlyn uit te jaag, sonder om van die daaropvolgende aanvallende lynstane af punte te kon aanteken.

Daarenteen het die besoekers basies elke keer wat hulle in die rooi sone gekom het, ’n drie aangeteken.

Die Haaie se verdediging was ook maar betreklik verdag.

Uiteindelik, met slegs ’n paar minute oor in die eerste helfte en die Hurri­canes gerieflik voor met 20-3, het die Haaie ’n dodelike aanval binne die opposisie se helfte geloods, met die Du Preez-tweeling uiters prominent, en Aphelele Fassi het in die oorkantste hoekie oorgegaan vir hul eerste drie.

Bosch het van die kantlyn af verdoel om die halftyd-agterstand na 10-20 te laat krimp.

Dit het duidelik die Haaie se selfvertroue ’n hupstoot gegee, en na nog ’n puik aanvalsbeweging het die plaasvervangerstut Juan Schoeman in die 44ste minuut oorgedryf vir hulle tweede drie.

Die gebreke op verdediging is egter sowat tien minute later weer gruwelik ontbloot toe die Hurricanes se linkervleuel, Ben Lam, van die halflyn af gebreek en so hittete amper self gaan druk het.

Kort daarna het die Suid-Afrikaans gebore Wes Goosen wel in die oorkantste hoekie oorgeduik vir sy span se derde drie, en Beauden Barrett se doelskop, tesame met sy strafdoel van ’n paar minute vantevore, het weer die voorsprong na 30-17 vergroot.

Met vyf minute se speeltyd oor het die Hurricanes-flank Vaea Fifita ’n rooikaart gekry vir ’n gevaarlike en laat duikslag op Jean-Luc du Preez, maar selfs met slegs 14 spelers het die Kiwi’s se verdediging nie gewankel nie en kon hulle as welverdiende oorwinnaars uit die stryd tree.

Meer oor:  Haaie  |  Hurricanes  |  Jaguares  |  Superrugby-Reeks  |  Robert Du Preez  |  Buenos Aires
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.