Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Trokkie moet Leeus na wenpad help
Rohan Janse van Rensburg is op binnesenter gekies vir die Leeus se stryd teen die Brumbies. Foto: Gallo Images

’n Trokkie wat omring is deur ’n hele paar V8’s.

Dit is die resep wat Swys de Bruin, die afrigter van die Leeus se Superrugby-span, gaan inspan om hulle weer terug op die wenpad te kry in Saterdag se kragmeting met die Brumbies op Ellispark.

Hy het Rohan “Trokkie” Janse van Rensburg as sy binnesenter gekies, met die spoedvrate Aphiwe Dyantyi, Madosh Tambwe en Sylvian Mahuza aan sy buitekant.

Die plan is duidelik om die Brumbies met Janse van Rensburg se stormramlopies op die agtervoet te kry en dan vir die haastige manne aan sy buitekant die kans te gee om af te rond.

Swys de Bruin (Gallo Images)

“Ons wil drieë druk en ook vergoed dat ons self die laaste paar weke op die agtervoet was in van ons wedstryde,” sê De Bruin.

Sy snoeiskêr was die laaste ruk nooit ver weggebêre nie en hierdie week is geen uitsondering nie, met agt veranderinge, waarvan twee posisioneel, wat aan die span aangebring is wat teen die Highlanders verloor het.

Die twee Springbokke Lionel Mapoe en Ruan Combrinck is weggelaat, hoewel De Bruin sê dat Mapoe met ’n beenbesering sukkel. Combrinck bevind hom op die plaasvervangersbank.

Nie een van hierdie twee het die laaste ruk die wêreld aan die brand gespeel en die soort spel gelewer waartoe hulle in staat is nie.

Tambwe en Mahuza is nou die vleuels, met Dyantyi wat buitesenter toe skuif.

Hoewel hy nog nooit daar vir die Leeus gespeel het nie, is dit glad nie ’n ongewone posisie vir hom nie en het hy die Universiteit van Johannesburg (UJ) gereeld in daardie posisie in die Varistybeker-reeks verteenwoordig.

“Aphiwe is mal daaroor om 13 te speel. Trouens, dit is eintlik sy gunstelingposisie,” vertel De Bruin.

Aphiwe is mal daaroor om 13 te speel. Trouens, dit is eintlik sy gunstelingposisie.
Swys de Bruin

“Die plan is dat hy genoeg kans moet kry om die bal te dra en ook ruimte gegun word.”

Met Harold Vorster wat volgens De Bruin effe grieperig is en hierdie week ’n ruskans gegun word, skuif Janse van Rensburg in op binnesenter.

Hierdie agterlyn lyk na een met veel meer vol plofkrag, hoewel die Leeus se ondersteuners dalk tog ook vir Ross Cronjé in die beginspan sou wou sien. Hy sal egter sy terugkeer ná ’n ribbesering, wat hom twee maande lank uit aksie gehou het, as plaasvervanger maak.

Voorlangs kry Hacjivah Dayimani weer speelkans as agtsteman, met onsekerheid wat steeds bestaan oor wanneer Warren Whiteley uiteindelik weer beskikbaar gaan wees.

Kwagga Smith vroeër vanjaar teen die Crusaders in aksie. Foto: Gallo Images

Kwagga Smith skuif van agtsteman na flank, waar Cyle Brink vir hom plek maak.

Marvin Orie het ’n nuwe slotmaat in Lourens Erasmus, met Andries Ferreira wat nie die 23-tal gehaal het nie. Ruan Dreyer begin as vaskopstut ten koste van Johannes Jonker.

Corné Fourie (haker), Len Massyn (losvoorspeler) en Shaun Reynolds (losskakel) is van die nuwe gesigte op die plaasvervangersbank.

De Bruin sê van die Brumbies dat hulle ’n fisieke span is, wat ’n paar hemelbesems in hul lynstaan het. Dit verduidelik die plan nog meer om die bal weg van hul voorspelers te hou en die spel vinnig te maak en dit te wil rek na die punte.

Leeus se span:
Andries Coetzee, Sylvian Mahuza, Aphiwe Dyantyi, Rohan Janse van Rensburg, Madosh Tambwe, Elton Jantjies, Nic Groom, Hacjivah Dayimani, Franco Mostert (k), Kwagga Smith, Marvin Orie, Lourens Erasmus, Ruan Dreyer, Robbie Coetzee, Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Corné Fourie, Jacques van Rooyen, Johannes Jonker, Len Massyn, Marnus Schoeman, Ross Cronjé, Shaun Reynolds, Ruan Combrinck.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Rohan Janse Van Rensburg  |  Swys De Bruin  |  Johannesburg  |  Brumbies  |  Leeus  |  Ellispark  |  Superrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.