Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Van duiksakke dra tot voor draf vir Bulle

Burger Odendaal onthou goed hoe hy in 2012 as ’n o.19-laaitie by die Bulle “genooi” is om saam met die senior span te oefen.

Dié uitnodiging was grotendeels beperk tot duiksakke vashou, maar dit was ’n grootoog-ervaring, sê hy.

Morné Steyn was as Springbok-losskakel een van die goue Bulle saam met wie Odendaal destyds geoefen het.

Burger Odendaal, die Bulle-kaptein vir 2020. Foto: Gallo Images

Nou is dit 2019 en Odendaal is aangestel as Steyn se kaptein in die Superreeks.

“Ja, rugby kan vreemde paadjies met jou loop. Ek het Morné daardie tyd bewonder en nou is ek die kaptein van dieselfde span waarin hy speel. Dit is eintlik onwerklik.”

Dit is geen verrassing dat Pote Human, die Bulle-afrigter, Odendaal gevra het om sy span te lei nie.

Dié binnesenter is op die veld net so onverskrokke en kliphard soos wat Human destyds vir die Oostelike Provinsie en die Vrystaat was.

Odendaal is net 26, maar berei voor vir sy sesde jaar van Superrugby.

Hy skerts Human het hom die taak gegee op een voorwaarde: hy mag nie vinnig “breek” nie.

“Beserings is deel van rugby, maar Pote het mooi gevra dat ek vanjaar vir meer as twee wedstryde ná mekaar kan speel. Kom ons hoop ek kry dit reg.”

Odendaal sê hy het nooit gedink hy sal voor draf vir die Bulle nie.

Dit is eintlik moeilik om die kapteinskap in woorde te beskryf as ek dink aan die legendes wat oor die jare vir die span gespeel het en die ongelooflike tradisie by Loftus.
Burger Odendaal

“Net om by die Bulle te wees, is al klaar so ’n groot voorreg. Ek besef dit is regtig ’n eer en ek wil dankie sê vir Pote en sy vertroue in my.”

Odendaal het in Leeu-wêreld sy eerste rugbytreë gegee, maar hy kom uit ’n huis waar die Blou Bulle ondersteun word, verseker hy.

“Ek het in Krugersdorp grootgeword, maar my pa was nog altyd ’n Blou Bul.

“Dit is eintlik moeilik om die kapteinskap in woorde te beskryf as ek dink aan die legendes wat oor die jare vir die span gespeel het en die ongelooflike tradisie by Loftus.”

Jy kan verwag dat hy op die veld deur sy voorbeeld sal lei.

“Ek dink nie ek is die ou met die beste woordkeuse of motiveringspraatjies nie.

“As iets gesê moet word, sal ek dit doen, maar ’n belangrike duikslag kan net so belangrik wees as om die regte goed op die veld te sê.”

Odendaal sê hoewel die Bulle sewe Springbokke se dienste verloor het, wil hy nie hê die 2020-seisoen moet ’n boufase genoem word nie.

“Ons het ’n klomp groot name verloor en jy vervang sulke spelers nie oornag nie.

“Dit is ’n lekker geleentheid vir die jong manne wat deurkom. Ek het destyds op 21 my debuut in die Curriebeker-kompetisie gemaak en was baie dankbaar vir daardie geleentheid.

“Ons het die laaste vier seisoene nie baie stabiliteit gehad met nuwe afrigters (Human is Odendaal se vierde hoofafrigter sedert 2015) en spelers wat weg is nie.

“Dit is nou beter in daardie opsig.

“Daar sal egter meer druk wees, omdat ons vanjaar goed gevaar het (in die Superreeks). Die verwagtinge is dalk hoër, maar ons sal nie as een van die gunstelinge gereken word nie.”

Meer oor:  Loftus Vers­Feld  |  Pretoria  |  Burger Odendaal  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.