Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Van Zyl soek steeds Bul- én Bok-glorie

Die Blou Bulle het in 2019 die beste van Suid-Afrika se Superrugby-spanne gevaar, maar nou is die uitdaging om daarop voort te bou ná ’n yslike uittog by die Pretoria-franchise.

Ivan van Zyl gee die bal uit vir die Blou Bulle tydens hul Curriebeker-kragmeting teen die Haaie in Augustus op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

So het die skrumskakel Ivan van Zyl onlangs by die bekendstelling van volgende jaar se Superreeks gesê.

Die Bulle het vanjaar die kwarteindronde van die reeks gehaal, voordat die Hurricanes hulle met 35-28 in Wellington omgedop het.

Dié span bevind hom egter opnuut in ’n herboufase nadat sterre soos Handré Pollard (Montpellier), Duane Vermeulen (Kubota Spears), Jesse Kriel (Canon Eagles), Lood de Jager (Sale Sharks), RG Snyman (Honda Heat), Jason Jenkins (Canon Eagles), Hanro Liebenberg (Leicester Tigers), Eli Snyman (Treviso) en Schalk Brits (uitgetree) almal Pretoria verlaat het.

“Ons het baie ouens verloor, maar ons het steeds in van die kernposisies sterk spelers beskikbaar, wat uiteindelik die belangrikste is,” meen Van Zyl.

“Ons het vir Morné (Steyn) en Josh (Strauss) wat weer by die span aansluit en dan in Warrick (Galant) ’n Wêreldbeker-wenner. Spelers soos Duane (Vermeulen) is natuurlik onvervangbaar. Hulle is daai eens-in-’n-leeftyd-tipe spelers.”

Volgens Van Zyl is die Bulle al lank op die oefenveld aan die sweet vir volgende seisoen.

“Ons is reeds in ons agtste week van voorseisoense voorbereiding en ek is baie opgewonde oor wat ons jong agterlyn kan doen.

“Spelers soos Marnus Potgieter wat op buitesenter inkom is baie talentvol. Dis maklik om te stres oor ’n jong groep, maar almal wat die Wêreldbeker gewen het, was self eens op ’n tyd spelers wat hul buiging moes maak.”

Vir dié oudleerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria is die afrigtingspan, met Pote Human as hoofafrigter, wat behoue gebly het ’n groot pluspunt.

“Ons het drie jaar in ’n ry drie verskillende afrigters gehad en dis lekker om die eerste keer in ’n lang tyd ’n mate van bestendigheid te hê. Dit skep bietjie rustigheid.”

Van Zyl het sy Springbok-buiging in 2018 gemaak teen Wallis in Washington en daarna nog vyf keer in die Groen-en-goud uitgedraf.

Ofskoon hy en sy Blou Bul-spanmaat Embrose Papier gereeld vir Rassie Erasmus se span uitgedraf het verlede jaar, was nie een van hulle vanjaar in die Springbok-breier se planne vir die Rugbykampioenskap of Wêreldbeker-rugbytoernooi nie.

Herschel Jantjies het sy neus voor hulle gekry, terwyl Faf de Klerk en Cobus Reinach die ander nr. 9’s in die groep was.

Die Springbok-skrumskakel Ivan van Zyl en Jack Nowell van Engeland duik albei vir die bal tydens Suid-Afrika se jaareindtoer in 2018. Foto: Getty Images

En selfs al het die span van Loftus Versfeld vanjaar bevredigend op Superrugby-vlak presteer met agt uit 16 oorwinnings, was Van Zyl en Papier se peil deurlopend ’n besprekingspunt.

Human se besluit om deurlopend te torring aan wie die oond moet skoonmaak, het nie gehelp nie.

Van Zyl en Papier het albei ses keer die regmerkie gekry in die beginspan, terwyl André Warner ook nader aan die einde van die reeks vyf keer ingespan is.

Nie een van hulle het meer as drie agtereenvolgende wedstryde begin nie.

Van Zyl weet egter dat hy skouer aan die wiel sal moet sit.

“Dis definitief ’n doelwit om nog deel van ’n seëvierende Wêreldbeker-span te wees. Dis nooit lekker om nie deel van so iets te wees nie, veral as ’n mens reeds jou eerste proesel van toetsrugby gehad het,” sê hy.

“Vir my is dit ’n kwessie van eenvoudig so hard werk as wat ek kan. Ek wil vanjaar weer die peil lewer wat my in die Springbok-prentjie sal plaas.

“Ek weet hoe groot en spesiaal dit is om by die Bokke te wees en ek weet ook hoe maklik dit van jou af weggevat kan word. Daarom werp ek tans alles in die stryd.”

Die Bulle skop hul Superrugby-veldtog op 31 Januarie teen die Haaie in Durban af.

Meer oor:  Blou Bulle  |  Bokke  |  Ivan Van Zyl  |  Springbokke  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.