SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
SuperRugby
‘Verbode woorde’ beskerm Haaie

Hulle praat nie daaroor nie, sê die Haaie se kaptein, Louis Schreuder. Hy sal jok as hy sê hulle dínk nie daaraan nie . . . Maar oor die uitsonderlike prestasie wat Saterdag teen die Chiefs in Hamilton op die spel is, word daar nie ’n amptelike woord in die Haaie-kamp gerep nie.

“Om onoorwonne terug te keer sal reusagtig wees. As ’n span het ons nog nie daaroor gepraat nie, want dit skep bykomende druk,” het Schreuder vandeesweek gesê.

Louis Schreuder, die Haaie se skrumskakel en kaptein. Foto: Gallo Images

Ná ’n oorwinning oor die Waratahs in Sydney en ’n gelykopuitslag teen die Crusaders in Christchurch, is dit binne die Haaie se bereik om hul oorsese Superrugby-toer onoorwonne af te sluit.

“Dit is wel in ons agterkop. Daar is bitter min spanne wat gaan toer en onoorwonne terugkeer, veral as jy teen die Crusaders in Christchurch moet speel.“As ons dít kan bereik, sal dit ’n groot hupstoot vir die span se selfvertroue gee, veral omdat die Chiefs so ’n goeie, ervare span is met soveel X-faktor-spelers.”

Die heuningkwas is, voorspelbaar genoeg, uitgehaal vir die span van Waikato. Die feit is egter dat hulle maar slegs die 14de plek op die algehele puntelys beklee.

Verlede week het die Chiefs wel ’n goeie wedstryd beleef. Hulle het ook gelykop gespeel – met 31-31 teen die Highlanders in Dunedin.

“Ons het ons huiswerk oor die Chiefs gedoen. Hulle is een van die beter spanne in die reeks, al beklee hulle slegs die 14de plek op die puntelys,” sê Schreuder.

“Wat die statistieke betref, beklee hulle hoë posisies in verskeie gebiede: eerste in drukaangeë, eerste in aangeë, derde met die kere wat die verdedigingslinie oopgekloof is en vierde in drieë gedruk. Op die aanval bied hulle dis ’n reuse-uitdaging.”

Die Chiefs se statistieke wys egter dat ’n span se verdediging en dissipline net so belangrik is, indien nie belangriker nie, as sy aanvallende vernuf.

“Hulle val goed aan en plaas spanne onder druk. Ons sal op ons beste moet wees, soos verlede week en die week voor dit.”

Colin Cooper, die Chiefs se afrigter, staal hom vir ’n enorme fisieke aanslag.

“Die Haaie het ’n sterk agttal en hulle het ’n goeie vertoning teen die Crusaders gelewer verlede week,” het Cooper op die Chiefs se amptelike webwerf gesê.

Die vraag is of die Haaie vir ’n derde week agtereenvolgens sal kan duik asof die wêreld eindig. Is daar nog murg in hul pype vir een laaste ystervertoning, of lê hul gô uitgestort op Christchurch se gras?

Spanne
Chiefs: Solomon Alaimalo, Sean Wainui, Tumua Manu, Anton Lienert-Brown, Etene Nanai-Seturo, Marty McKenzie, Brad Weber (k), Luke Jacobson, Mitchell Karpik, Jesse Parete, Mitchell Brown, Tyler Ardron, Nepo Laulala, Nathan Harris, Atu Moli. PLAASVERVANGERS: Liam Polwart, Ryan Coxon, Angus Ta’avao, Taleni Seu, Pita Gus Sowakula, Te Toiroa Tahuriorangi, Shaun Stevenson, Alex Nankivell.


Haaie: Aphelele Fassi, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, Marius Louw, Makazole Mapimpi, Curwin Bosch, Louis Schreuder (k), Philip van der Walt, Jean-Luc du Preez, Jacques Vermeulen, Ruan Botha, Hyron Andrews, Coenie Oosthuizen, Kerron van Vuuren, Thomas du Toit. PLAASVERVANGERS: Fezokuhle Mbatha, Mzamo Majola, John-Hubert Meyer, Tyler Paul, Luke Stringer, Cameron Wright, Robert du Preez, Kobus van Wyk.

Skeidsregter: Nic Berry.

Assistent-skeidsregters: Paul Williams en Brendon Pickerill.

TV-skeidsregter: Aaron Paterson.

Afskop: 09:35 (SS 1).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Superrugby  |  Chiefs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.