Die losskakel Aaron Cruden het nog nie eens gedink aan die moontlikheid om weer vir die All Blacks uit te draf nie.
Dít nadat hy ’n kontrak vir die 2020-Superrugby-seisoen met die Chiefs gesluit het.

Aaron Cruden op die aanval vir die All Blacks in die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus in 2017. Hy sal vanjaar weer vir die Chiefs uitdraf.Foto: Getty Images
Die 31-jarige Cruden het pas teruggekeer na Nieu-Seeland nadat hy sy kontrak met Montpellier kortgeknip het.
Cruden, wat in 2017 na Frankryk vertrek het ná die Britse en Ierse Leeus se toer in Nieu-Seeland, sal weer vir die Kiwi’s se nasionale span in die Junie-toetse teen Wallis en Skotland oorweeg kan word, sou sy peil in die Superreeks dit regverdig.
Hy het reeds 50 toetse agter sy naam, maar sê dat ’n potensiële All Black-terugkeer nog nie regtig iets is waaroor hy getob het nie.
“Ek het nog nie regtig veel oor die All Blacks gedink nie,” het Cruden gesê toe hy hom by ’n voorseisoense oefenkamp saam met die Chiefs aangesluit het.
“Ek is nou al ’n hele paar seisoene buite daardie omgewing en daar is baie dinge wat verander het. Om terug te wees in Nieu-Seeland, gaan vir my meer daaroor om ’n bydrae by die Chiefs te maak en ons het natuurlik die voorneme om ’n titel te wen.”
Ek het nog nie regtig veel oor die All Blacks gedink nie.
Aaron Cruden
Hy het in 2011 die Wêreldbeker-rugbytoernooi saam met die All Blacks gewen, maar in Frankryk deurlopend met beserings gesukkel.
Sou hy in die All Blacks se prentjie kom, gaan daar ’n paar taai besluite wees om te maak met Beauden Barrett, Richie Mo’unga, Josh Ioane en Damian McKenzie wat almal ook op losskakel oorweeg kan word.
Barrett is wel in 2019 meestal op heelagter ingespan vir die All Blacks, met Mo’unga wat die span se generaal was.
McKenzie speel self ook sy beste rugby vanuit die laaste vesting.
Ian Foster, wat die leisels as afrigter by Steve Hansen oorgeneem het, sal ook sy eie stempel wil afdruk by die span.
Die Hurricanes sit wel met ’n krisis op losskakel nadat Barrett ’n kontrak met die Blues gesluit het. Nietemin het Cruden gesê dat die Chiefs die enigste span is wat na hom toe uitgereik het oor ’n moontlike skuif terug na Nieu-Seeland. – SkySports, New Zealand Herald, Sportredaksie