Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Voer Jaguares ’n ‘Rassie-plan’ in mou?

Wat voer die Jaguares in die mou?

Vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Stormers is daar talle veranderinge aan die span wat in verlede naweek se sege van 43-27 oor die Reds opgedraf het. ’n Paar van hul beste voorspelers is skielik ook op die plaasvervangersbank.

Guido Petti, die Jaguares se lynstaan-ster, is onverwags op hul plaasvervangersbank gekies vir Saterdag se wedstryd teen die Stormers op Nuweland. Foto: Getty Images

John Dobson, die Stormers se afrigter, sal inderdaad kopkrap, want met drie agtereenvolgende oorwinnings in vanjaar se reeks het sy span darem al genoeg gedoen om enige teenstander se agting te verdien.

Maar dalk is dit ’n bomb squad-plan deur die Jaguares se breier, Gonzalo Quesada?

Een van die bestanddele van Rassie Erasmus en die Springbokke se suksesresep by die Wêreldbeker-toernooi verlede jaar was ’n sterk plaasvervangersbank, wat uit ses voorspelers bestaan het. Dié spelers, wat die uitklophou in die tweede helfte van wedstryde moes plant, het na hulself as die bomb squad verwys.

As die Argentyne dit vir 50 minute ’n gelykopstryd in die loopgrawe kan maak en dán ysters soos die slot Guido Petti en flank Marcos Kremer opstuur, kan dit dalk net die momentum skep wat hulle nodig het om die Stormers op Nuweland te troef.

Die Jaguares het ’n ganse nuwe voorry – Santiago Medrano, Santiago Socino en Nahuel Tetaz Chaparro – in die beginspan. Dié stutte is wel meer ervare as dié wat teen die Reds begin het, maar Socino het net twee toetse agter sy naam teenoor die 89 van die man wat hy vervang, Agustín Creevy.

Op slot raak dit regtig interessant, want daar is volgens statistieke oor die eerste drie rondes in vanjaar se reeks nie ’n beter nr. 4 as Petti nie. Hy het nog nie vanjaar ’n duikslag verbrou nie en die vier balle wat hy al in die lynstane gegaps het, dui daarop dat hy ’n troefkaart in die vaste fasette is. En tog begin Matias Alemanno bo hom.

Kremer maak op sy beurt plek vir Francisco Gorrissen, wat een van die min spelers in die Jaguares se groep sonder ervaring van toetsrugby is.

Wat voer die Jaguares se uitgeslape afrigter, Gonzalo Quesada, in die mou met al sy veranderinge vir die wedstryd teen die Stormers? Foto: Getty Images

Agterlangs speel die Jaguares ook sonder hul gereelde kaptein en binnesenter, Jerónimo de la Fuente. Dis baie ervaring wat verlore is wanneer Creevy se afwesigheid bygereken word. Daar’s egter steeds ’n deurwinterde kaptein, Tomás Cubelli, wat Felipe Ezcurra op skrumskakel vervang.

Dis ook nie asof die Jaguares skielik baie swakker is nie. Hulle spog steeds met ’n rits toetsspelers en kan as sulks as niks anders as gedug beskryf word nie.

Die laaste vyf kragmetings tussen hierdie teenstanders dui op tuisveldvoordeel as ’n beslissende faktor. Verlede jaar het die Stormers met 35-8 op Nuweland gewen, maar toe met 25-30 in Buenos Aires verloor.

John Dobson, die Stormers se afrigter, wys egter daarop dat die Jaguares lankal nie meer swak toeriste is nie. Hulle het ’n skaflike rekord in Nieu-Seeland en Australië en het verlede jaar die Bulle op Loftus en die Haaie op Kingspark getroef.

Hy verwag dat die spiere weerskante toe gebult gaan word.

“Die Jaguares is groot en ongelooflik aggressief, maar dalk vanjaar minder atleties,” sê hy.

“Albei spanne se fokus gaan daarop wees om die ander een se ruimte te beperk en ek verwag vandeesweek meer van ’n armdrukkery. Dit gaan ’n baie fisieke wedstryd wees.”

Spanne

Stormers: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Jamie Roberts, Seabelo Senatla, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Pieter-Steph du Toit, Jaco Coetzee, JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni en Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Ali Vermaak, Wilco Louw, Chris van Zyl, Johan du Toit, Ernst van Rhyn, Godlen Masimla en Jean-Luc du Plessis.

Jaguares: Emiliano Boffelli, Bautista Delguy, Santiago Chocobares, Juan Cruz Mallia, Sebastian Cancelliere, Domingo Miotti, Tomas Cubelli (k), Rodrigo Bruni, Tomas Lezana, Francisco Gorrissen, Lucas Paulos, Matias Alemanno, Santiago Medrano, Santiago Socino en Nahuel Tetaz Chaparro. PLAASVERVANGERS: Julian Montoya, Mayco Vivas, Joel Sclavi, Guido Petti, Marcos Kremer, Gonzalo Bertranou, Joaquin Diaz Bonilla en Matias Moroni.

  • Skeidsregter: Rasta Rasivhenge (Suid-Afrika).
  • Assistentskeidsregters: Egon Seconds en Griffin Colby (albei Suid-Afrika).
  • TV-skeidsregter: Willie Vos (Suid-Afrika).
  • Afskop: 15:05 (SS 1 en GDN).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.