Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Volwasse O’Connor Reds se troefkaart
James O’Connor was hierdie seisoen baie meer gedissiplineerd op en van die veld af. Foto: Getty Images

As die Reds daarin kan slaag om die Brumbies Saterdag in die eindstryd van die Australiese Super-reeks te klop, sal James O’Connor se transformasie van stout seun na ’n betroubare leier voltooi wees.

O’Connor, op sy tyd die wilde seun van die Wallabies, is weer op losskakel vir die Reds gekies vir die kragmeting in die Canberra-stadion.

Die 30-jarige O’Connor het hierdie seisoen vir die Reds in dié posisie uitgeblink en ’n sleutelrol in die span se vertonings gespeel.

In sy jonger dae is daar bitter selde na O’Connor as ’n rolmodel verwys, maar sy dissipline was hierdie seisoen opmerklik.

Hy het skynbaar met die ouderdom volwassenheid bereik en sy hegte verhouding met die Reds se afrigter, Brad Thorn, wat vir sy streng dissipline bekend is, is duidelik goed vir hom.

“Ek speel losskakel, so ons gesels elke oggend voordat die span bymekaarkom oor wedstrydplanne en hoe ons die oefening gaan aanpak,” het O’Connor vandeesweek vertel.

“Dis nie iets waarby ek voorheen betrokke was nie, so dis baie meer werk, maar dis wonderlik wanneer jy die vrugte pluk en jy voel dat jy regtig gegroei het.

“Ek het saam met die span gegroei. Ek het hierdie jaar baie geleer.”

O’Connor se toewyding kan hom ook deel van Dave Rennie se planne vir die Wallabies maak.

Hy het in 2013 laas vir die Wallabies uitgedraf toe hulle teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het.

Die “Three Amigos” en Will Genia (heel regs) in 2010 in Bloemfontein nadat die Wallabies die Springbokke geklop het. Van links is James O’Connor, Quade Cooper en Kurtley Beale. Foto: Getty Images

Voor daardie reeks het hy al reeds in 40 toetse gespeel en was dit hy wat die All Blacks se segetog van 15 wedstryde verbreek het deur sy eie drie teen die Nieu-Seelanders in 2010 in Hongkong te verdoel.

Hy was daardie tyd saam met Kurtley Beale en Quade Cooper een van Australië se “Three Amigos”.

Hulle was jong manne wat opwindende rugby gespeel het, maar ook gereeld weg van die veld af drooggemaak het.

’n Paar maande ná die Leeus-toer is O’Connor se Wallaby-kontrak opgeskeur ná berigte dat hy by ’n lughawe besope was en lughawepersoneel sleggesê het.

Hy is Europa toe, maar het in 2015 teruggekeer om vir die Reds te speel. Hy kon egter nie die afrigter Michael Cheika se groep vir die Wêreldbeker-groep haal nie.

Die Reds het hom ook laat gaan en hy is Frankryk toe om vir Toulon te gaan speel.

Daar is hy ná ’n aand uit saam met die voormalige All Black Ali Williams in hegtenis geneem omdat hy kokaïen by hom gehad het.

En nou is hy skielik weer in die nuus, maar hierdie keer vir die regte redes.

Brumbies: Tom Banks, Andy Murihead, Tevita Kuridrani, Irae Simone, Tom Wright, Noah Lolesio, Joe Powell, Pete Samu, Will Miller, Lachie McCaffrey, Cadeyrn Neville, Murray Douglas, Allan Alaalatoa (k), Folau Fainga’a, Scott Sio. PLAASVERVANGERS: Connal McInerney, James Slipper, Tom Ross, Nick Frost, Rob Valetini, Nic White, Bayley Kuenzle, Solomone Kata.

Reds: Jock Campbell, Jordan Petaia, Hunter Paisami, Hamish Stewart, Filipo Daugunu, James O’Connor, Tate McDermott, Harry Wilson, Fraser McReight, Liam Wright (k), Lukhan Salakaia-Loto, Angus Blyth, Taniela Tupou, Brandon Paenga-Amosa, JP Smith. PLAASVERVANGERS: Josh Nasser, Harry Hoopert, Ruan Smith, Tuaina Taii Tualima, Angus Scott-Young, Moses Sorovi, Bryce Hegarty, Jack Hardy.

Skeidsregter: Angus Gardner.

TV: 11:15 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).

Meer oor:  Reds  |  Superrugby Au  |  Brumbies  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.