Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Waar op aarde is SA spanne heen op pad?

Gaan dit Buenos Aires wees? Of dalk Canberra? Wat van Wellington? Kan Christchurch die bestemming wees?

Dit is die legio opsies wat op die Suid-Afrikaanse spanne wag wat hierdie naweek vir die uitspeelrondes van die Superrugbyreeks kwalifiseer.

CHRISTCHURCH, NEW ZEALAND - SEPTEMBER 06: General
Die Crusaders se AMI-stadion in Christchurch is die laaste plek waar teenstanders ’n uitspeelwedstryd wil speel. Foto: Getty Images

Nie net is daar vier verskillende plekke waarheen die SA spanne op pad kan wees nie, maar dit strek ook oor drie verskillende lande en selfs twee kontinente.

Die besigste mense vandeesweek in die aanloop tot die laaste naweek van ligawedstryde is ongetwyfeld die spanbestuurders van die Leeus, Bulle, Haaie en Stormers.

“Ek is al 11 jaar hier by die Leeus betrokke en het nog nooit voorheen só iets beleef nie,” sê Mustapha Boomgaard, spanbestuurder van die Leeus.

“Ek was Maandagoggend al 06:30 hier op kantoor om met my beplanning te begin. Dit is ’n baie besige week, maar ek floreer daarop en dit is vir my baie opwindend om hierdie unieke situasie te ervaar en die legkaart in plek te laat val.

“Dis vir my baie lekker om alles te beplan en ek het nou reeds al ons moontlikhede gereël en indien dit nodig is, sal ek Saterdagaand net die een wat uiteindelik geld bevestig en dan die ander drie kanselleer,” sê hy.

Mustapha Boomgaard, die spanbestuurder van die Leeus. Foto: Gallo Images

“Ons het gelukkig ook ’n baie goeie reisagent wat met die reëlings help. Ek het gaan sit en al die moontlike scenario’s uitgewerk waarheen ons dalk kan gaan en toe die reëlings getref. Dit behels vliegkaartjies, reis vanaf die onderskeie lughawens na die hotel, al die hotelverblyf, asook oefeninge op die velde en ander toere in die stede wat beplan kon word.

“Ons planne is gereed vir die moontlikheid van enige van die vier bestemmings. Dit is baie werk, maar gelukkig het ek ook baie goeie verhoudinge met die skakelbeamptes van die spanne daar oorsee en weet presies met wie om daar te praat en hoe dinge gedoen moet word,” sê hy.

Boomgaard sê hy skakel ook met die ander Suid-Afrikaanse spanne se spanbestuurders en hulle ruil gedagtes uit en kom goed oor die weg.

“Almal is gewillig om mekaar te help en ek kom goed met Chippie (Solomons, Stormers), Trevor (Barnes, Haaie) en Elias (Bennett) van die Bulle oor die weg,” sê hy.

“Hierdie situasie waarmee ons almal hierdie week te doen het, is regtig uniek en het nog nooit voorheen gebeur nie. Dink net daaraan, dit kan dalk selfs gebeur dat drie SA spanne kan deurdring en dan is almal op pad Australasië toe. Dit sal beteken dat die drie spanne van hier af Sydney toe moet vlieg en daar is elke dag net een vlug van OR Tambo na Sydney. Dan sal ons spanne oor drie dae daarheen moet vlieg.

“Daar sal ook mense wees wat dink ons is arrogant om reeds reëlings te tref as ons nog nie eens vir die uitspeelwedstryde gekwalifiseer het nie, maar dit is maar hoe jy dit moet doen. Ons kan beslis nie tot Saterdagaand gewag het om dalk eers te kwalifiseer en dan met die reëlings te begin nie. Jy moet voorbereid wees op enige gebeurlikheid.”

Boomgaard wil nou net hê dat die Leeus hul kant moet bring en nie al sy harde werk ongedaan maak deur nie eens vir die uitspeelwedstryde te kwalifiseer nie.

Om uiteindelik aanstaande week met Jan Tuisbly se karretjie te moet ry, sal beslis ’n anti-klimaks vir Boomgaard wees.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Stormers  |  Leeus  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.