Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Whiteley 2 maande uit rugby

Warren Whiteley is waarskynlik vir so lank as twee maande uit rugby.

Die aanduidings is dat die Springbok-agtsteman die Bokke se tuistoets teen die Wallabies én die wegtoets teen Nieu-Seeland in die Rugbykampioenskap weens sy kniebesering sal misloop.

Die Springbokke speel op 20 Julie teen die Wallabies op Ellispark en op 27 Julie teen die All Blacks in Wellington, waarna daar twee toetse in Augustus teen Argentinië wag.

Warren Whiteley glo hy het nog ’n jaar of twee se rugby in hom . . . as die beseringspook net sal wegbly. Foto: Gallo Images

Die lang herstelpad wat vir die Leeus se uithaler-kaptein voorlê, kan beteken dat hy in die Curriebeker-reeks sal moet bewys dat sy spelpeil én fiksheid goed genoeg is om aan hom ’n plek in die Bok-groep vir die Wêreldbekertoernooi in Japan te besorg. Die WB-toernooi skop af op 20 September.

“Ek is nie 100% seker hoe lank ek uit sal wees nie, maar dit lyk na omtrent twee maande,” het ’n teleurgestelde Whiteley gesê.

“Ons gaan ons tyd neem en seker maak ek is 100% as ek terugkeer. Ek sal waarskynlik eers in die Curriebeker-reeks speel. Hopelik kan ek daar goed genoeg speel om vir die Bokke in aanmerking te kom.”

Whiteley se besering versterk Rynhardt Elstadt en Dan du Preez se kanse om vir die toetse teen die Wallabies en die All Blacks betrek te word. Veral Du Preez het met sy goeie spel vir die Haaie die Bok-keurders aan die praat.

Die Bok-keurders sal egter Whiteley, wat as ’n sterk en gewilde leier beskou word, se vordering met die oog op die Wêreldbeker dophou.

Groot belangstelling heers ook oor waar Whiteley volgende jaar sy rugby sal speel. Hy het nog nie ’n aankondiging daaroor gemaak nie, met onderhandelinge tussen hom en die Leeus wat sloer.

“Ek is redelik rustig oor volgende jaar,” het die 31-jarige Leeus-kaptein gesê.

“My plan is om volgende jaar by die Leeus te speel. Dis waar ek graag wil speel.

“Natuurlik wil ek eers my lyf regkry en net op die veld bly. Ek wil graag ’n paar agtereenvolgende wedstryde speel. Dís vir my belangrik, want ek wil op die veld waarde toevoeg vir die unie. Dan eers kan ons bepaal wat volgende jaar gebeur.

“Ek weet wat ek ná rugby wil doen, maar ek het nog so ’n jaar of twee se rugby in my voor dan.

“Die laaste ruk was beslis uitdagend, maar ek is vol vertroue dat my geluk sal draai en dinge beter sal word.”

  • Die uittog by Ellispark kan ná vanjaar se Wêreldbekertoernooi krisisafmetings aanneem, met ses van die Leeus se Springbokke wie se kontrakte nog nie hernieu is nie.
Malcolm Marx
Kwagga Smith Foto’s: Gallo Images
Elton Jantjies

Malcolm Marx, Elton Jantjies, Lionel Ma­poe, Kwagga Smith en Ruan Combrinck tel benewens Whiteley onder die Leeus wat nog nie hul kontrakte verleng het nie. Minstens drie van hulle sal die pad oorsee kies.

Die Leeus is om verstaanbare redes sensitief oor dié Bokke se onderhandelinge, nadat Rapport vroeër oor die grootskaalse uittog van spelers ná die Wêreldbeker by die Bulle en Haaie berig het.

Die Westelike Provinsie verloor ook van sy staatmakers, maar nie so baie soos in die geval van die land se ander franchises nie.

“Inligting oor spelers se kontraktering is vertroulik en kan ongelukkig nie in die media bespreek word nie,” het Rudolf Straeuli, uitvoerende hoof van die Leeus, gesê.

“Hoekom is besonderhede oor die spelers se kontraktering vir Rapport en sy lesers só belangrik? Die vensterperiode vir kontraktering maak eers in Julie oop en die kontrakte van (spelers van nasionale belang) verskil vir elkeen individueel.

“Ons as Leeus Rugbymaatskappy (Edms.) Bpk. werk hard saam met SA Rugby om ons nasionale spelers binne die kontrakteringsraamwerk te behou.

“Ons gaan nie noodwendig almal kan behou nie, soos julle tereg opmerk (die geval met) van die ander unies (is).

“Al ons Springbokke is kontrakte aangebied en dit sal hopelik binnekort afgehandel word. Leeus Rugbymaatskappy (Edms.) Bpk. probeer sy bes om sy spelers te behou en sal ’n mededingende span vir 2020 hê.”

Geen speler is volgens Straeuli toestemming gegee om met ander entiteite te onderhandel nie.

“Die rede waarom ons heel waarskynlik baie spelers sal verloor, is dat die bedryf deur ’n baie moeilike tyd gaan en daar ’n nuwe kontrakteringsmodel is. Almal se begroting word ook kleiner.

“Maar geen van ons nasionale spelers is in dié tydstip elders gekontrakteer nie.”

Byna al die Leeu-Bokke wat nog nie hul kontrakte verleng het nie, is in die visier van oorsese klubs.

Combrinck is in die visier van meer as een oorsese klub, maar kan eindelik Heyneke Meyer se Franse klubspan Stade Français kies.

Marx is byna op al wat ’n oorsese klubspan is se inkopielys, maar kan in Japan beland.

Smith kan dalk terugkeer na Yamaha Jubilo, dieselfde Japanse klubspan wat hy verlede jaar verteenwoordig het. Hulle speel in die Japanse Topliga, waarvan die bepalings in 2020 met Superrugby oorvleuel.

Jantjies se loopbaan by die Leeus hang aan ’n dun draadjie nadat daar glo onenigheid tussen hom en van sy spanmaats ná verlede naweek se Super-wedstryd teen die Haaie in Durban was.

Die Leeus het eergister aan Netwerk24 bevestig dat hulle môre met hom oor sy toekoms sal vergader. Jantjies is om dissiplinêre redes uit die Leeus se span vir gister se wedstryd op Ellispark weggelaat.

Meer oor:  Leeus  |  Warren Whiteley
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.