Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Wen voel soos verloor vir Stormers

Die Stormers se oorwinning oor die Leeus in Saterdagaand se Superrugby Unlocked-wedstryd op Nuweland het teen ’n duur prys gekom, met die vleuel Sergeal Petersen wat waarskynlik lank buite aksie gaan wees met ’n bobeenbesering.

Tim Swiel, wat as plaasvervanger-losskakel deur die Stormers opgestuur is, pyl af op die Leeus se nr. 10, Elton Jantjies, in Saterdagaand se Superrugby Unlocked-stryd op Nuweland. Foto: Jaco Marais

John Dobson, die Stormers se breier, het ná sy span se sege van 23-17 gesê dat dit ’n “noemenswaardige” besering is. “Ek dink hy gaan vir ’n geruime tyd uit wees.”

Die vraag is nou of Seabelo Senatla betyds van sy besering sal herstel vir Vrydag se wedstryd teen die Pumas in Nelspruit. Indien nie, kan die Varsitybeker-drieëvraat Edwill van der Merwe straks ’n geleentheid kry.

Met die Stormers wat net hul eerste wedstryd in die reeks gespeel het, sal dit onvanpas wees om hulle te skerp te kritiseer vir wat origens ’n swak vertoning was.

Die een groot positiewe ding vanuit hul perspektief is dat hulle baie geleenthede geskep het om punte aan te teken. In die eerste helfte alleen het hulle vier keer op die aanval besit in die Leeus se kwartgebied afgestaan.

Veral hul lynstaanspel het gepla en Dobson se troepe kon ook nie rolmaalbewegings aan die gang kry nie.

Daar moet in gedagte gehou word dat dié wedstryd die Stormers se eerste amptelike een ná die staat van inperking was en dat hulle vanweë die vorige naweek se loslootjie “agter” die ander spanne was wat wedstrydfiksheid betref.

Maar selfondersoek was die orde van die dag ná dié broekskeur-sege.

“Ek ken nie die wetenskap van die verskil wat ’n bykomende wedstryd sal maak nie, maar dit het gevoel asof ons vir lank nie gespeel het nie. Dalk het die ander spanne gebaat by die ekstra wedstryd,” sê Dobson.

“In die kleedkamer ná die wedstryd het dit egter gevoel asof ons verloor het. Ons was baie teleurgesteld met die vertoning. Siya (Kolisi, die kaptein) het in die kleedkamer gesê dat daar individueel vertonings was wat werklik benede die verlangde peil was.”

Petersen se besering het groot ontwrigting veroorsaak, want dit het beteken dat Damian Willemse van losskakel af na heelagter toe moes skuif en Warrick Gelant van heelagter na vleuel. Tim Swiel moes toe op losskakel inskakel.

Dobson meen Willemse was net mooi besig om sy ritme op losskakel te vind toe hy sy agterlyn moes herrangskik.

Dit het miskien ernstig gelyk, maar die besering wat die Stormers se Damian Willemse opgedoen het in Saterdagaand se wedstryd teen die Leeus op Nuweland, is niks meer as ’n lammie nie. Foto: Gallo Images

“Dis jammer dat Damian geskuif moes word. Ek het gedink hy was goed op losskakel. Ons almal stem saam dat hy twee weke gelede (in die Springbok-proefwedstryd) ’n slegte ervaring gehad het, so ek is baie bly vir hom oor vandag,” sê die Stormers-breier.

Wat Dobson nagelaat het om uit te wys is die betreklik maklike strafskop wat Willemse enkele minute voor die einde verbrou het. Het hy daarmee geslaag, sou die Stormers met nege punte voor gewees het en nie desperaat teen die einde aan hul voorsprong moes vasklou nie.

Aan die positiewe kant het die Stormers se sambreel-verdediging, waar hulle na binne toe invou – vir ’n onderskepdrie vir Rikus Pretorius gesorg.

Dan het hulle ook gebiedsvoordeel geniet – ’n aspek waaraan hulle hard gewerk het.

’n Swak vertoning met ’n paar ligpunte dus, en ’n positiewe uitkoms, al was dit ’n wedstryd wat vinnig vergeet sal word.

Meer oor:  Sergeal Petersen  |  Unlocked  |  Stormers  |  Leeus  |  Damian Willemse  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.