Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Whiteley hospitaal toe met nierstene

Daar gaan wel Saterdagmiddag ’n Jantjies op Ellispark in aksie wees in die Superrugby-stryd tussen die Leeus en die Stormers.

Sy naam gaan egter nie Elton wees nie, maar wel Herschel en hy gaan ’n doring in die tuisspan se vlees wees en nie hul steunpilaar en groot puntemasjien nie.

Herschel Jantjies het sterk op die voorgrond getree in Superrugby en kan Saterdag weer een van die Stormers se angels teen die Leeus wees. Foto: Gallo Images

Elton Jantjies was bloot ’n toeskouer by Dinsdag se Leeus-oefening in die Johannesburg-stadion en die nuus uit die kamp is dat hy olik is en heel waarskynlik nie teen die Stormers sal kan speel nie.

Shaun Reynolds het op losskakel geoefen, met die heelagter, Andries Coetzee, wat ook met tye in daardie posisie diens gedoen het om afwisseling te bied met sy geleerde hotklou.

Dit is juis Coetzee wat die ander Jantjies, met wie hulle Saterdag te doen gaan kry, se lof besing het.

Herschel, die Stormers-skrumskakel, het die kollig die afgelope ruk met vyfster-vertonings op hom laat val en was uitstaande in die afgelope Saterdag se oorwinning oor die Highlanders op Nuweland, waar hy selfs die All Black-skrumskakel Aaron Smith oorskadu het.

“Hy (Jantjies) is ’n baie opwindende speler en bring die hardlooprugby waarvoor die Westelike Provinsie al daardie jare gelede so bekend was, weer terug.

“Ons sal hom goed moet dophou. Hy hou beslis ’n gevaar in,” erken Coetzee.

Soos dit nou al byna gewoonte geraak het, sal die Leeus se span Donderdag aangekondig word sonder dat die naam van Warren Whiteley daar sal wees.

Asof al die skete wat dié kaptein en agtsteman so bloots ry nie genoeg is nie, sukkel hy nou ook boonop met nierstene.

Hy het oor die naweek in die hospitaal beland en hoewel hy wel Dinsdag by die oefening ingeloer het, is daar nog nie van die nierstene ontslae geraak nie. Daar gaan glo eers probeer word om dit met medisyne te verwyder.

Courtnall Skosan, die Leeus se Springbok-vleuel, reken hierdie kragmeting gaan ’n grote wees, met die Kapenaars wat Johannesburg toe kom met hul sterte in die lug en die selfvertroue wat ’n hupstoot gekry het die afgelope paar weke.

Warren Whiteley het nog ’n terugslag gely. Foto: Gallo Images

“Ons was ongelukkig in Durban en dinge kon anders verloop het, maar dit is ’n vreemde spel en enigiets kan gebeur. Jy kan nooit die wip van die bal vertrou nie,” sê hy.

“Ons sal nie wegskram daarvan om aan te val met die bal in die hand en die gapings te probeer vind nie,” sê hy.

Coetzee het bevestig dat die afrigter, Swys de Bruin, sy spelers uitdaag om te wys wat in hulle steek in hierdie laaste drie ligastryde van die reeks.

“Die Stormers het ’n uitstekende agterlyn en jy kan enigiets van hulle verwag,” sê hy.

Nadat hy verlede jaar ’n baie gemiddelde seisoen beleef het, speel Coetzee vanjaar weer die soort rugby wat in 2017 van hom ’n Springbok gemaak het.

“Dit was glad nie lekker om verlede jaar uit die Springbok-groep gelaat te word nie,” erken hy, “maar ek het besin oor dinge. Dit help ook dat coach Swys ons aanmoedig om net elkeen ons eie soort spel te speel en uiting aan ons avontuurlus te gee,” sê Coetzee.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Warren Whiteley  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.