In ’n variasie op die gesegde dat een swaeltjie nie ’n somer maak nie, kan daar gesê word dat een leeu nie ’n wildtuin maak nie.
Malcolm Marx, die Leeus se haker en kaptein, het Saterdag ’n inspirerende eenmanvertoning teen die Brumbies in Canberra gelewer, maar dit was nie naastenby genoeg om die span van die Goudstad van ’n nederlaag met 20-31 te weerhou nie.

Warren Whiteley het by die Leeus in Nieu-Seeland aangesluit vir die span se wedstryde in die Superreeks teen die Chiefs en die Crusaders. Foto: Gallo Images
Hy het ’n alleenstryd gevoer. Met ’n paar spelers van sy statuur in die agttal kon sake dalk anders gelyk het, maar helaas, daardie gehalte skop jy nie sommer agter elke bos uit nie.
Daarom sal dit vir Swys de Bruin ’n groot verligting wees dat die gereelde kaptein, Warren Whiteley, hom Sondag by sy spanmaats in Nieu-Seeland aangesluit het.
Hy het die naweek uit Johannesburg na Nieu-Seeland gevlieg, waar die Leeus in hul oorblywende twee toerwedstryde op Goeie Vrydag in Hamilton teen die Chiefs te staan kom, en die daaropvolgende week teen die Crusaders in Christchurch.
Whiteley is sedert die tweede wedstryd in vanjaar se reeks uit aksie toe hy beseer is in die kragmeting teen die Stormers in Kaapstad.
Hy is darem nie die enigste van die Leeus se invloedryke spelers wat terugkeer ná ’n besering nie. Die losvoorspeler Kwagga Smith kan ook sy terugkeer teen die Chiefs maak, en skielik lyk die lostrio van die Leeus aansienlik stewiger met Whiteley en Smith wat weer oorweeg kan word.
Saam met Marx sal hulle die agttal veel meer vaardigheid gee.
Dit is iets wat die Leeus beslis nodig sal hê in hierdie volgende twee kragmetings.
Die Chiefs was uitstekend in hul naelskraapse sege oor die Blues die afgelope Saterdag en met hul vermoë om die bal lewendig te hou en hul puik ondersteunende spel sal hulle die Leeus se powere verdediging kwaai op die proef stel.
Net die blote teenwoordigheid van die invloedryke Whiteley sal die Leeus in alle opsigte ’n hupstoot gee, hoewel die kans maar baie skraal is dat hulle enige van hierdie twee wedstryde in Nieu-Seeland sal wen.
Superrugby-bepalings
Superrugby-puntelyste
Superrugby-uitslae