Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
‘Ons het alles gedoen wat ons kon’

Warren Whiteley, die Leeus se agtsteman en kaptein, is ongelooflik trots op sy span, want hy besef hulle het Saterdagoggend in die eindstryd van die Superrugby-reeks teen die Crusaders teen ’n beter span vasgeval.

Die Crusaders het die Leeus met 37-18 in Christchurch geklop en sodoende hul titel suksesvol verdedig. Dit is die negende keer dat dié Kiwi-span die Superrugby-reeks wen.

Die Leeus-losskakel, Elton Jantjies, in die Superrugby-eindstryd in aksie. Foto: Getty Images

“Dit was taai. Ons het alles gegee en dit is al waarvoor jy kan vra. Die ouens kan baie trots wees. Ons het met karakter en hart gespeel, so alle krediet moet aan die Crusaders gaan,” het Whiteley ná die tyd gesê.

“Hulle het ons rolmaalbewegings gestuit, hulle het ons skrums gestuit. Ons het bykans 70% van die balbesit gehad, so ons het regtig alles gegee wat ons kon.

“Die Crusaders was net te goed. Hulle is ’n kampioenspan en hulle verdien die sege.”

Volgens Whiteley was die Crusaders se verdediging bykans ondeurdringbaar.

“Ons het geleenthede gehad om punte aan te teken. Ons was millimeters daarvan weg om te druk – dink aan Elton (Jantjies, losskakel) wat letterlik millimeters weg van ’n drie was. Dit was die verskil.

“Ons het soveel kanse gehad met rolmaalbewegings vyf meter van hul doellyn. Die geleenthede was daar en ons het daardie geleenthede geskep deur aan die bal vas te klou en die druk te laat oplaai.

“Ek kan net trots wees op elke speler in dié span, want jy skep nie net sulke geleenthede teen ’n span soos die Crusaders nie. Ek weet nie hoeveel duikslae hulle moes uitvoer nie, maar ek glo nie daar is ’n span wat hulle soveel duikslae laat uitvoer het soos wat ons vanaand het nie.

“Die Crusaders het soos ’n kampioenspan geduik en daarom is hulle welverdiend die kampioen.”

Whiteley sê sy span het strykdeur geglo hulle kan vir ’n opskudding sorg.

“Ons het deur die week geglo ons kan hierdie wedstryd wen. In die wedstryd het ons ook geglo ons kan wen. Ons was strykdeur in die wedstryd,” sê hy.

“Dit het net gevoel asof die Crusaders punte aangeteken het elke keer net nadat ons punte aangeteken het. Dit is ’n kenmerk van ’n kampioenspan.

“Ons het soveel druk op hulle geplaas. Elke keer wat hulle een geleentheid gekry het, het hulle punte aangeteken. Ons het miskien vier of vyf kanse gekry en een keer punte aangeteken.

Kwagga Smith in die Superrugby-eindstryd in aksie. Foto: Getty Images

“Hulle het verdedig en verdedig en verdedig, ons het alles gedoen wat ons kon.”

Swys de Bruin, die span se breier, het ook ná die tyd gesê hy is ongelooflik trots op sy troepe.

“Ek is baie trots op al die spelers; hulle het alles gegee. Ek het vir die ouens in die kleedkamer gesê die telbord is een ding, karakter en veggees vertel ’n ander storie,” sê De Bruin.

“Vanaand het ek karakter en veggees gesien. Vir meer as dit kan ek nie vra nie. Dit wys jou net hoe goed is hierdie Crusaders-span. Hulle verdien om die kampioen te wees.

“Dit was ’n eer en ’n voorreg om hier te wees en deel te wees van hierdie storie.”

Meer oor:  Leeus  |  Crusaders  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.