SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
SuperRugby
Whiteley speel nie Superrugby in 2020

Dit lyk al hoe meer asof Warren Whiteley die knie as rugbyspeler sal moet buig.

Whiteley sal nie aanstaande jaar vir die Leeus in die Superreeks in aksie kan wees nie en sy rugbyheil blyk voortaan as afrigter te lê.

Warren Whiteley vroeër vanjaar by die bekendstelling van ’n Springbok-gedenkmunt. Foto: Gallo Images

Altmann Allers, die voorsitter en eienaar van die Leeus-maatskappy, het Donderdag bevestig dat daar geen sien van Whiteley op die speelveld gaan wees in aanstaande jaar se Superreeks nie.

“Warren het teenoor my erken hy ervaar nog heelwat pyn (in sy knie). Dit is ’n geval dat hy mooi herstel, maar dat daar telkens ’n terugslag is en dat hy nie sommer gou weer sal kan speel nie. Die besluit is gemaak dat hy nie volgende jaar vir ons in die Superreeks betrokke sal kan wees as speler nie,” het Allers gesê.

Whiteley se loopbaan is die afgelope twee seisoene bloots gery deur verskeie beserings, maar dit is veral die knieligamente wat hom kwaai opkeil. In ’n stadium vanjaar is daar probeer om hom betyds reg te kry vir die Wêreldbeker-toernooi in Japan, maar dit blyk dat daardie versnelde proses meer skade as goed aangerig het en die einde van sy spelerloopbaan kan beteken.

Na verneem word, sal Whiteley aanstaande jaar diens doen as die Leeus se voorspeler-afrigter, met Philip Lemmer, wat die voorspelers die afgelope twee jaar gebrei het, wat herontplooi sal word as die afrigter by die afbreekpunte.

Allers kon dit nie bevestig nie, maar sê hy is wel oortuig die nuwe hoofafrigter, Ivan van Rooyen, sal Whiteley wel as afrigter aanwend.

“Warren is so waardevol in ons opset dat hy wel benut moet word. Hy kan ook as tussenganger optree tussen die spelers en die spanbestuur,” sê Allers.

As agtsteman en kaptein van die Leeus was Whiteley een van die hoofredes waarom die Leeus van 2016 tot 2018 drie keer in die Super-eindstryd gespeel het. Hy is baie inspirerend vir die spelers en daarom is hy dadelik aangewend in ’n rol as mentor en afrigter.

Ons onderhandel met spelers wat sal help toesien dat ons ’n faktor in aanstaande jaar se Superreeks is en dat ons baie mededingend gaan wees.

Allers het ook bevestig dat daar met ’n aantal hoëprofiel-spelers onderhandel word.

“Ons onderhandel met spelers wat sal help toesien dat ons ’n faktor in aanstaande jaar se Superreeks is en dat ons baie mededingend gaan wees,” sê hy.

Die voormalige Bok-stut Jannie du Plessis is een van daardie spelers, maar Allers wou nie bevestig of daar ook met sy broer, Bismarck, onderhandel word om Leeus toe te kom nie.

Met Malcolm Marx nie aanstaande jaar deel van die Leeus-opset nie, sal die Leeus kan doen met ’n haker van gehalte en die broers Du Plessis het in die verlede telkens vir dieselfde spanne gespeel. Hulle kom dus omtrent altyd as ’n pakket.

Die veelsydige Springbok-agterspeler Frans Steyn het die Leeus glo voor vanjaar se Wêreldbeker-toernooi genader oor die moontlikheid om in die toekoms vir hulle te speel. Hy is egter ook met ander unies verbind, en hoewel hy huis gekoop het in Bloemfontein, is dit nie uitgesluit dat hy ’n Rooibonte kan word nie.

Dit is egter veral vaste voorspelers wat hoog op die Leeus se inkopielys is. Tog het Allers gesê dat in sekere gevalle daar vertroue gestel moet word in die jong spelers in die stelsel om deur te kom.

Volgens hom sal die aanwinste aangekondig word voordat die groep in Desember vir die Kersvakansie uiteengaan.

Meer oor:  Warren Whiteley  |  Bokke  |  Leeus  |  Springbokke  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.