Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Wie gaan hul wáre kleure op Loftus wys?

So tussendeur die Haaie wat verkondig hulle wil kom wraak neem in Pretoria en die druk wat oplaai in die Bulkraal, wonder jy watter weergawe van dié twee spanne Saterdag by Loftus Versfeld gaan opdaag.

Warrick Gelant se tweestryd met Curwin Bosch kan vir groot opwinding sorg. Foto: Gallo Images

Want een ding is seker: Die Haaie is ’n veel beter span as die een wat ’n maand gelede in Durban 40 punte teen die Bulle afgestaan het.

So ook is die Bulle tot veel beter in staat as die poging verlede Saterdag op Nuweland teen die Stormers, wat ’n bron van irritasie vir John Mitchell was.

Dit beloof ’n interessante stryd in die Superreeks. Die Haaie het ’n gesonde skoot selfvertroue nadat hulle die Highlanders verlede Saterdag slae gegee het, en die Bulle speel tuis.

Pote Human, wat die tuisspan se voorspelers afrig, het vandeesweek gesê die Nuweland-loesing het nogmaals gewys jy wen rugbywedstryde voorlangs.

Die Bulle het al vanjaar goed anker gegooi in die skrums, maar teen die Stormers het dit gelol.

Dit is ’n maklike een om te voorspel: Die Haaie sal die Bulle in die skrums teiken en hoop die Du Preez-broers, Dan en Jean-Luc, doen die res op die voordeellyn.

Onvoorspelbaarheid is straks die Bulle se grootste troefkaart.

Hulle het verlede maand in die Haaitenk die tuisspan aanvanklik onkant betrap met hul aanvallende spel, terwyl Handré Pollard ná rustyd takties beheer geneem het toe dit begin reën het.

Curwin Bosch was verlede week teen die Highlanders op sy stukke. Foto: Gallo Images

So gepraat van Pollard. Daar is ’n paar heerlike tweestryde agterlangs.

Pollard teen Robert du Preez, die senterstryd tussen Jesse Kriel en Burger Odendaal, en Lukhanyo Am en André Esterhuizen, en Warrick Gelant se wedywering met Curwin Bosch is soos Bok-proewe dié tyd van die jaar.

Met sake wat bottelnek in die Suid-Afrikaanse konferensie, sal al die spanne sterk wil eindig voor die Junie-blaaskans.

Die meeste druk is op die Bulle nadat hulle reeds tuis teen die Leeus en die Highlanders verloor het.

Ook in die lig van hul volgende afspraak – volgende Saterdag in Buenos Aires teen die Jaguares.

Met die Jaguares heel onverwags tans die keur in dié konferensie, is ’n besoek aan die Argentynse hoofstad nou byna soos om die Poemas in ’n toets aan te durf.

As Saterdag se stryd wel voor bepaal gaan word, moet jou geld op die Haaie wees.

In die lynstane het die Bulle nie hul gelyke nie, maar die besoekers het groter spierkrag in al die ander afdelings.

Of kan die Bulle weer een van daardie vertonings lewer wat ondersteuners in die geweste nogmaals hoop gee vir die John Mitchell-era?

Bulle: Warrick Gelant, Travis Ismaiel, Jesse Kriel, Burger Odendaal (k), Johnny Kotze, Handré Pollard, Ivan van Zyl, Marco van Staden, Jason Jenkins, Roelof Smit, Lood de Jager, RG Snyman, Trevor Nyakane, Adriaan Strauss, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Jaco Visagie, Frans van Wyk/Mox Mxoli, Conraad van Vuuren, Thembelani Bholi, Nic de Jager, André Warner, Manie Libbok, Divan Rossouw.

Haaie: Curwin Bosch, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Robert du Preez, Cameron Wright, Daniel du Preez, Jean-Luc du Preez, Jacques Vermeulen, Ruan Botha (k), Tyler Paul, Thomas du Toit, Akker van der Merwe, Tendai Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Chiliboy Ralepelle, Juan Schoeman, Ross Geldenhuys, Stephan Lewies, Wian Vosloo, Louis Schreuder, Marius Louw, Lwazi Mvovo.

Skeidsregter: Rasta Rasivhenge.

Assistent-skeidsregters: AJ Jacobs, Archie Sehlako (SA).

Afskop: 17:15 (SS 1, M-Net).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.