Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Wiehahn: 2020-Bulle nie ‘naasbestes’

Dit was in Nieu-Seeland wat die Bulle verlede jaar begin lyk het na ’n span wat voorlangs die teenstanders soos in die ou dae kan wurg.

Frans Ludeke, die voormalige Bulle-afrigter, het dit “stadige gif” genoem.

Wiehahn Herbst (regs) saam met Campese Ma’afu (links) en Rory Best nadat hy in November in Cardiff vir die Barbarians teen Wallis gespeel het. Foto: Getty Images

Die Bulle het in Kiwi-land hope durf gewys om met die Blues én die Highlanders gelykop te speel vir waardevolle ligapunte in die Superreeks.

Dit het die kampioenspan van weleer in staat gestel om vir die eerste keer in ses seisoene verder as die groepfase te vorder.

’n Seisoen later en die Springbokke Duane Vermeulen, RG Snyman, Lood de Jager en Schalk Brits is vort en dit lyk asof die Bulle-pak vanjaar die span se achilleshiel kan wees.

Maar nie as dit van die stut Wiehahn Herbst afhang nie.

“Ons gaan beslis nie terugstaan nie. Die spelers wat hier is, beskou hulle nie as die naasbestes nie.

“Jy speel om te wen en nie net om deel te neem nie,” sê hy.

Herbst het verlede seisoen, ná vyf jaar in Ierland, waar hy in 80 wedstryde vir Ulster in die voorry gesak het, by die Bulle aangesluit.

Hy sê ná die groot aanpassing wat hy in 2014 moes maak toe hy by die Haaie weg is, was dit vir hom makliker om terug te keer Suid-Afrika toe.

Die spelers wat hier is, beskou hulle nie as die naasbestes nie.
Wiehahn Herbst

“Ierland was baie goed vir ons gesin, maar die aanpassing was destyds groot.

“Ek het baie ervaring daar opgedoen. Dit is ’n heel ander spel wat in Europa gespeel word.

“Jy het daar aangekom en ’n Superrugby-benadering gehad, maar ek het gou besef dit werk nie so nie.

“Dit is goed om terug te wees en die weer en jou kultuur hier te geniet.”

Herbst het aan die einde van 2017 gekwalifiseer om vir Ierland te speel, maar sê dit is nie iets waaraan hy dink nie.

“Ek is net hier om vir die Bulle te speel. Wat moet gebeur, sal gebeur.”

Hy wil immers eerder oor die Springbokke en hul Wêreldbeker-triomf gesels.

“Almal is opgewonde. Wanneer jy die Springbokke sien die beker wen, motiveer dit jou.

Ek is net hier om vir die Bulle te speel. Wat moet gebeur, sal gebeur.

“Ek onthou ek was sewe toe ons in 1995 gewen het en die opgewondenheid was net so groot op 30 (toe die Bokke verlede jaar in Japan geseëvier het).

“Jy wil graag beter vaar.”

Die ervare slot Juandré Kruger, wat weens ’n hakseningbesering nie Saterdag teen die Tukkies gespeel het nie, sal na verwagting Sondag teen die Leeus op superheld-Sondag kan speel.

Daar sal egter nie met die flank Marco van Staden gewaag word nie.

Hy het teen die Tuks ’n harde hou teen die nek gekry en daar was kommer dat hy dalk harsingskudding opgedoen het.

Pote Human, die Bulle-afrigter, maak sy span Woensdag bekend.

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Rg Snyman  |  Pote Human  |  Frans Ludeke  |  Blou Bulle  |  Superrugby  |  Superrugby-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.