Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Cobus Wiese bly ’n Stormer in 2020

Cobus Wiese speel aanstaande jaar rugby vir die Stormers, nie vir die Engelse klub Saracens nie.

Dié versekering is Woensdag gegee deur John Dobson, die Stormers se afrigter vir aanstaande jaar se Superreeks. Netwerk24 het Dobson om kommentaar genader nadat rugby365.com berig het dat Wiese eersdaags die Kaap sal verlaat om die volgende vyf jaar vir Saracens te speel.

Cobus Wiese (regs) vroeër vanjaar by Nuweland saam met die man wie se trui hy waarskynlik by die Stormers gaan oorneem, Eben Etzebeth. Foto: Gallo Images

“Cobus is beskikbaar vir Superrugby. Hy het ’n uitkomklousule wat hy ná die reeks kan uitoefen as hy wou. Ek dra kennis van Saracens se belangstelling, maar weet ook dat hulle uitdagings het,” het Dobson gesê.

Die uitdagings waarna Dobson verwys, is die reuse-straf wat Saracens gekry het vir die oortreding van reëls oor salarisperke. Daar is 35 ligapunte by Saracens afgetrek, wat beteken dat hy ná vier wedstryde in die Engelse seisoen op minus-22 staan en relegasie dalk op sy horison kan wees. Daarmee saam is Saracens met £5,36 miljoen (meer as R100 miljoen) beboet.

Dis dus hoogs onwaarskynlik dat Saracens vir Wiese dadelik sal kan kontrakteer.

Dobson sou dit ook nie toelaat nie, want dié 22-jarige bielievoorspeler gaan in die komende Superreeks ’n belangrike rol hê.

Wiese was ’n uitblinker in byna elke wedstryd wat hy verlede jaar vir die Stormers gespeel het. Mits hy beserings kan systap, kan 2020 vir hom ’n groot seisoen wees.

Hy kan met vrug in enige van die slotposisies aangewend word, terwyl hy waarskynlik sy lyf nr.7-flank sal moet hou wanneer Dobson die Springbok-ster Pieter-Steph du Toit laat rus.

Met dié dat Eben Etzebeth hom by Toulon gaan aansluit, is daar vir Wiese ook ’n groot kans om hom in die Stormers se vaste vyf te vestig.

Dis ook welbekend dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, Rassie Erasmus, Wiese hoog aanslaan.

Dobson se versekering dat Wiese minstens nog ’n seisoen in die Moederstad gaan deurbring, kom as ’n groot verligting, want die Westelike Provinsie het reeds 13 senior spelers verloor.

Die Stormers gaan min diepte onder hul agterspelers hê, maar sal voorlangs deur ’n groep Wêreldbeker-uitblinkers en jong Turke soos Wiese en Jaco Coetzee gedryf word.

Die enigste aanwinste waarvan gepraat word, is die vleuel Leolin Zas en senter Michal Haznar – ’n beskeie oes wat wys hoe dun die WP se tjekboek is.

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby  |  Cobus Wiese
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.