Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Wiese wil nie Kaap vir oorsee verruil

Deesdae het plaaslike administrateurs en afrigters slapelose nagte oor die toekomsplanne van hul talentvolle jong rugbyspelers, maar Cobus Wiese beplan nie om in die nabye toekoms sy tasse vir die Noordelike Halfrond te pak nie.

Cobus Wiese sê die Stormers waak daarteen om wisselvallig teen die Highlanders te vertoon. Foto: Gallo Images

“My kontrak met die WP strek tot 2021 en ek hoop om daarna aan te bly, want ek geniet my rugby geweldig baie hier. Baie min jong spelers het die voorreg om soveel ervare en talentvolle spelers om hulle te hê,” het Wiese vandeesweek aan Netwerk24 gesê.

Dít is in skrille kontras met die uittog van spelers uit Suid-Afrika na Engeland, Frankryk en Japan.

Wiese is vir die Stormers ’n uiters waardevolle speler in vanjaar se Superreeks. Hy hou Saterdag teen die Highlanders op Nuweland weer sy lyf nr.5-slot. Hy kan ook die vaster rol van ’n nr.4-slot speel en is ’n uitstekende steelkantflank. Boonop is hy net 21 jaar oud, wat daarop dui dat sy beste jare nog voor hom lê.

Wiese spog met ’n baie hoë werkverrigting op die verdediging, terwyl die Stormers se onlangse tuiswedstryd teen die Bulle ook gewys het hoe ’n afgeronde speler hy is. Hy het vyf verdedigers geklop, drie keer die bal in kontak suksesvol uitgegee, 12 duikslae uitgevoer en ook by geleentheid omkeerbesit afgedwing.

Wiese hoop om mettertyd die standaard te bereik wat deur sy held, die voormalige Cheetahs- en Springbok-flank Juan Smith, gestel is.

“Juan was ’n harde ou wat hard gewerk het en elke keer wat hy op die grond was opgestaan en aangehou het om hard te werk,” sê hy.

“In ons span is daar ook ouens soos Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit wat jou aanspoor. Ek het hulle in my skooldae op die TV gesien en nou het ek die geleentheid om saam met hulle te speel. As dít jou nie motiveer nie, skort daar iets met jou.”

Die Stormers het vir Wiese op sy beste nodig vir Saterdag se wedstryd teen die Highlanders, veral nadat dié Nieu-Seelanders die afgelope naweek teen die Leeus op Ellispark verloor het.

Natuurlik was dit glad nie sleg vir die Stormers se selfvertroue om met die Crusaders gelykop te speel nie, bestendigheid is sover vanjaar nie een van hul deugde nie.

“Daar was al ’n paar keer wat ons goed gespeel het en dan die volgende week verloor het. Dis in ons agterkop en ons word vandeesweek baie goed bestuur. Daar sal nie enige verskonings wees as ons swak is nie,” sê Wiese.

Terwyl die Highlanders tot dusver nie ’n goeie seisoen beleef nie – hulle het tot op hede vyf wedstryde gewen, ses verloor en twee keer gelykop gespeel – is Wiese onder geen illusies oor die uitdaging nie.

“Ons weet hulle is gevaarlik. Verdediging is ’n groot faktor teen ’n Nieu-Seelandse span, want met vinnige balbesit is hulle bitter gevaarlik. As ons dáár kan oorheers, sal ons geleenthede vir die agterspelers skep. Ons het die regte planne in plek,” sê hy.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby  |  Cobus Wiese
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.