Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Wilco kan WB-aandele laat styg
Die Stormers-vaskopstut Wilco Louw het Saterdag teen die Jaguares ’n kans om sy aanspraak op ’n plek in die Springbokke se Wêreldbeker-groep te verstewig. Foto: Getty Images

Die wedywering om plekke in die Springbokke se Wêreldbeker-groep raak al hoe feller en Saterdagaand in Buenos Aires kry Wilco Louw – as vaskopstut in die Stormers se beginspan – kans om te wys waarom hy later vanjaar op die vliegtuig na Japan behoort te wees.

Louw is straks verseker van die Kapenaars se nr.3-trui nadat Robbie Fleck, afrigter van die Stormers, besluit het om vir Frans Malherbe te laat rus vir die Superrugby-wedstryd teen die Jaguares in die José Amalfitani-stadion. Michael Kumbirai of Neethling Fouché behoort die vaskopstut op die plaasvervangersbank te wees.

Die 24-jarige Louw het die afgelope naweek teen die Bulle op Nuweland die Stormers se wankelrige skrum help verstewig toe hy in die tweede helfte in Malherbe se plek opgestuur is. Daar kan nie net op grond daarvan gesê word dat hy ’n sterker skrumwerker as Malherbe is nie, want Louw het aanvanklik geskrum teen ’n loskopstut (Lizo Ngqoboka) wat reeds meer as 50 minute op die veld was en noodwendig ’n bietjie tammer sou wees. Wat dit wel op dui, is dat Malherbe sy standaarde hoog sal moet hou.

Malherbe (28) was verlede jaar in 12 van die Bokke se 14 toetse in die beginspan, wat hom duidelik die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, se voorkeurspeler op vaskopstut maak.

Saam glimlag hulle breed voor die kameras, maar daar is sterk mededinging tussen (van links) Coenie Oosthuizen, Wilco Louw en Thomas du Toit om die vaskopstutte in Suid-Afrika se Wêreldbeker-groep te wees. Foto: Getty Images

Spelers se vertonings in die Superreeks sal egter swaar weeg en op vaskopstut wag daar baie moeilike besluite op Erasmus. Coenie Oosthuizen, Thomas du Toit (albei van die Haaie) en Trevor Nyakane (Bulle) is ook sterk in die wedloop. Du Toit en Nyakane bied ook die voordeel dat hulle ook as loskopstutte aangewend kan word indien die nood druk.

Frans Malherbe is bekend vir sy groot duikslae wanneer hy nie sy teenstanders in die skrums opkeil nie. Foto: Getty Images

Daar gaan waarskynlik net plek vir drie van dié vyf in die Wêreldbeker-groep wees, wat elke vertoning relevant maak. Méér so in wedstryde teen oorsese spanne met ervare toetsspelers in hul agterplase.

Indien die Jaguares hou by die span wat die Brumbies die afgelope naweek geklop het, gaan Louw vir Nahuel Tetaz Chaparro as regstreekse teenstander hê.

Chaparro (29) word as Argentinië se voorste loskopstut gereken. Hy het al 50 toetse op sy kerfstok, waarvan vyf teen Suid-Afrika was. Dit het ingesluit die opskudding in 2015 toe die Poemas die Bokke in Durban met 37-25 geklop het.

Dít alles dui op ’n gulde geleentheid vir Louw.

Trevor Nyakane het die afgelope Saterdag in die Bulle se voorry sy stem dik gemaak vir ’n plek in Suid-Afrika se Wêreldbeker-groep met ’n sterk skrumvertoning teen die Stormers se Springbok-loskopstut, Steven Kitshoff. Foto: Getty Images

Natuurlik kom skrumwerk neer op hoe ’n agttal saamwerk eerder as net ’n enkele speler en die Stormers se ego’s het dalk ’n bietjie in die slag gebly teen die Bulle.

Dis ’n afdeling van die spel waar hulle in die onlangse verlede meestal die oorhand oor die Bulle gehad het, maar die Kapenaars is oor die naweek hul eie medisyne gegee en was dikwels op die agtervoet in die vaste skrums.

Wat sal help, is dat die Stormers weer hul voorkeurslotpaar, Eben Etzebeth en JD Schickerling, in die beginspan behoort te hê.

Wat sal help, is dat die Stormers weer hul voorkeurslotpaar, Eben Etzebeth en JD Schickerling, in die beginspan behoort te hê. Louw sal dus deel van die sterkste vaste vyf wees wat die Stormers in etlike weke mee kan begin.

Cobus Wiese. Foto: Gallo Images

Intussen sal dit interessant wees om te sien hoe die Stormers se lostrio gaan lyk, met Siya Kolisi en Pieter-Steph du Toit nie dié week in Suid-Amerika nie.

Etzebeth se terugkeer kan straks beteken dat Cobus Wiese as nr.7-flank gekies word, terwyl Jaco Coetzee of as nr.6-flank of op agtsteman kan begin.

Kobus van Dyk is die afgelope twee naweke uit posisie op agtsteman gekies. Fleck het nou ook die opsie om Sikhumbuzo Notshe, wat sy fiksheid herwin het, daar te kies.

Die span word Donderdagaand om 18:00 (Suid-Afrikaanse tyd) bekend gemaak.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Wilco Louw  |  Coenie Oosthuizen  |  Trevor Nyakane  |  Kaapstad  |  Stut  |  Springbokke  |  Superrugby  |  Bokke  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.