Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Wilco-skrumkrag Stormers-troef

’n Speler van Wilco Louw se gehalte hoort in ’n beginspan eerder as op die plaasvervangersbank, maar John Dobson, die Stormers se afrigter, is in die onbenydenswaardige posisie waar hy tussen twee Springbok-vaskopstutte moet kies.

John Dobson, die Stormers se hoofafrigter, sê hy het begrip vir Wilco Louw se besluit om later vanjaar sy loopbaan by Harlequins in Engeland voort te sit. Foto: Gallo Images

Vandeesweek begin Frans Malherbe in die nr.3-trui en sal die 25-jarige Louw as plaasvervanger teen die Jaguares op Nuweland sy 50ste wedstryd vir die Stormers speel.

Dis beslis nie ’n skuif wat hy persoonlik moet opneem nie, want sy verskyning in die tweede helfte kan soos in verlede jaar se wedstryd tussen hierdie spanne op Nuweland ’n groot troefkaart wees.

Tóé het die Stormers met 35-8 gewen ná genadelose druk deur hul voorspelers in die tweede helfte.

Louw meen die oplossing lê Saterdag weer daar.

“Ons het ’n trotse skrumkultuur en trotse voorspelers. Die ouens werk hard vir mekaar en dis in die Stormers se DNS om te oorheers,” sê Louw.

“Dit geld ook die Jaguares. Hulle is groot en probeer jou ook voorlangs domineer. ’n Mens moet maar jou man daar staan.”

Met Louw en nog vyf voorspelers op die Stormers se bank, sal die ambisie daar wees om meer as net dit te doen. Daar’s nie eers vir die slot-flank Cobus Wiese plek op die plaasvervangersbank nie.

Wiese is vanweë Jaco Coetzee se terugkeer tot die beginspan sy plek in die 23-tal kwyt. Coetzee het verlede week harsingskudding gehad en het soos die Bok-skrumskakel Herschel Jantjies, wat met ’n seer skouer gesukkel het, nie teen die Leeus gespeel nie.

Coetzee se terugkeer beteken dat Johan du Toit, jonger broer van die Springbok-ster Pieter-Steph, plaasvervangersbank toe skuif. Chris van Zyl, wat deur JD Schickerling op slot vervang word, is bo Wiese op die bank gekies.

Dobson verwag groot dinge van Schickerling indien hy die beseringspook kan verjaag.

“Ons almal weet waartoe JD in staat is. Hoe gouer hy sy terugkeer tot die beginspan maak, hoe beter,” sê Dobson.

Coetzee se vermoëns as baljagter kan ook ’n belangrike faktor vir die Stormers wees.

“As jy kyk na verlede jaar se statistieke, het die Jaguares die bal vinniger uit die losskrums gekry as enige ander span. Ons het nie baie ouens wat die bal vertraag nie. Jaco is ons beste speler in daardie opsig en sy terugkeer is belangrik,” sê Dobson.

Wilco Louw Donderdag voor sy 50ste wedstryd vir die Stormers teen die Jaguares op Nuweland. Foto: Gallo Images

“Ons gaan móét verhoed dat hulle vinnige balbesit kry, want dit kan ons in staat stel om met lynspoed op die verdediging die Jaguares se momentum te stuit.”

Elders keer die Bok-skrumskakel Herschel Jantjies terug in Godlen Masimla se plek op skrumskakel.

* Intussen het Dobson vir Louw groot lof toegeswaai en begrip getoon vir sy besluit om die Westelike Provinsie vir die Engelse klub Harlequins te verlaat.

“Wilco is ’n uiters toegewyde ou en al wat hy nou wil doen, is om ons te help om die Superreeks te wen,” sê Dobson.

“Mense vra hoe ons Wilco kan toelaat om te gaan. Hy het uiteraard sy eie planne en ambisies, wat belangrik is. Gegewe hoe baie ons van Wilco hou, wil ons dit graag respekteer. Terselfdertyd is hy te goed as ’n stut om nie in die beginspan te wees nie. Hy is een van die beste vaskopstutte in wêreldrugby.

“Dis nie ’n geval van ons wat nie bereid is om ewe veel te betaal nie. Hy gaan met ons grootste seën. Dis ’n luuksheid hierdie seisoen om hom en Frans Malherbe te hê, maar nie ’n luuksheid wat ons vorentoe kan bekostig nie. Dis nie regverdig teenoor die speler wat nie begin nie.”

Stormers: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Jamie Roberts, Seabelo Senatla, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Pieter-Steph du Toit, Jaco Coetzee, JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Ali Vermaak, Wilco Louw, Chris van Zyl, Johan du Toit, Ernst van Rhyn, Godlen Masimla, Jean-Luc du Plessis.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Wilco Louw  |  John Dobson  |  Frans Malherbe  |  Superrugby  |  Jaguares  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.