Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Wolf, Wolf, hoe laat is dit? Te laat!
Die Japanse rugbyheld Shota Horie (hier in sy Brave Blossoms-trui) was ook aanvanklik ’n staatmaker vir die Sunwolves. Foto: Gallo Images

Nog ’n wolf is op die punt om uit te sterf – die sonwolf.

Indien Superrugby vanjaar weens die Covid-19 pandemie nie kan voortgaan nie, het Japan se Sunwolves op 14 Maart sy laaste wedstryd in die reeks gespeel.

Dan sal die fiktiewe Sunwolves se naam by die lys gevoeg word van regte wolwe wat reeds uitgesterf het. Wolwe soos die Hokkaido-wolf, die Newfoundland-wolf en die Siciliaanse-wolf.

Hoe hartseer is dit nie dat daardie moontlike laaste wedstryd van die Sunwolves boonop nie eens in Japan nie, maar in Australië teen ’n Nieu-Seelandse span gespeel is?

Die statistiekboeke sal wys dat die Crusaders die Sunwolves met 49-14 in die Suncorp-stadion in Brisbane, die tuisveld van die Reds, kafgedraf het.

Dié wedstryd is daar gespeel omdat die Sunwolves eintlik maar weens die uitbreek van die koronavirussiekte in Australië “gestrand” was.

Daar is reeds maande gelede bekend gemaak dat vanjaar die Sunwolves se laaste in Super-rugby sou wees. Finansiële redes is vir die besluit aangevoer.

Bitterbekke wys ook gou daarop dat die Sunwolves maar beroerd gevaar het sedert hulle in 2016 in die Super-reeks begin speel het.

Nege oorwinnings in vyf jaar is nie juis iets om op trots te wees nie.

Tog het die span deels daarin geslaag om Japanse spelers aan gereelde strawwe mededinging bloot te stel.

Altesaam 22 van die groep van 23 spelers in Japan se nasionale span wat Ierland in verlede jaar se Wêreldbekertoernooi met 19-12 geskok het, het op ’n tyd vir die Sunwolves gespeel.

Ná daardie sege het twee voormalige Wallabies, Phil Kearns en Greg Martin, Sanzaar se besluit om die Sunwolves die trekpas te gee kwaai gekritiseer.

Die Suid-Afrikaner Garth April druk vir die Sunwolves ’n drie in die laaste wedstryd wat hulle gespeel het voordat die Covid-19-pandemie die Super-reeks kortgeknip het. Dit was op 14 Maart teen die Crusaders in Brisbane. Foto: Getty Images

“Dit (die oorwinning) maak ’n bespotting van die besluit om van die Sunwolves ontslae te raak,” het Martin gesê.

Kearns het die besluit as ’n “dom” bestempel.

Maar geld praat hard. En Japan se klubs het hul stemme dik gemaak en die meeste het besluit om nie vanjaar hul topspelers vir die Sunwolves beskikbaar te stel nie.

Die Japanse Top-liga het dieselfde tyd as die Super-reeks begin.

Die Sunwolves, wat die Japanse Rugbyunie se geldkoffers kwaai leegmaak, moes toe maar ’n blaadjie uit die Southern Kings se boek skeur.

Soos wat die Kings nou al ’n hele paar jaar al moet doen, moes hulle raap en skraap om ’n span bymekaar te kry.

Daar was vanjaar ’n paar Nieu-Seelanders en ’n haker van Georgië.

Verbasend genoeg het die Sunwolves darem een wedstryd, teen die Rebels, gewen.

Maar daardie dae aan die begin in 2016 toe hulle die Tsjictsjiboenomija-stadion in Tokio volgepak het, was lankal verby.

Toe het nasionale helde soos Shota Horie en Kenki Fukuoka nog vir die Sunwolves gespeel.

Nou is dit manne soos Jake Schatz, Rudi Paige en Jabu Bregvadze.

Die Japanse spelers in die Sunwolves se groep was merendeels jongelinge wat uit universiteitspanne gepluk is en nie eens ervaring van die Japanse Top-liga het nie.

Nou maar as die Japanse Rugbyunie nie eens sy stem kan dik maak teen sy klubs nie, dan is dit nou maar koebaai vir die Sunwolves, nè.

Hoogtepunte in die span se kort bestaan? Dalk sy heel eerste oorwinning in 2016 in Superrugby teen die Jaguares.

Of dalk verlede jaar se skok-oorwinning van 30-15 oor die Chiefs in Hamilton. (Dit nadat die Chiefs die Wolves die vorige jaar met 61-10 afgeslag het!)

Uh, ja, ’n mens moet nogal kopkrap as jy nog iets wil opdiep.

Dis dalk nodig om te noem dat die Sunwolves nog elke jaar in sy bestaan ’n ander hoofafrigter gehad het.

Soos enige voormalige rugbyspeler kan getuig, het elke breier maar sy eie opvattings en is dit ’n aanpassing om daarby in te val.

So, die storie is maar ’n hartseer een, want eintlik kon dit so ’n wonderlike een gewees het.

Japanse rugby op sy beste is iets wat ’n mens hoendervel kan gee. Dink maar net terug aan die Brave Blossoms se oorwinning in 2015 oor die Springbokke.

Beste Sunwolves-span

Die amptelike Superrugby-webwerf het onlangs sy beste Sunwolves-span gekies en as ’n mens deur die name gaan, bring dit wel ’n klompie goeie herinneringe terug.

Hier is die span: Kotaro Matsushima, Kenki Fukuoka, Timothy Lafaele, Michael Little, Semisi Masirewa, Hayden Parker, Jamie Booth, Willie Britz, Andrew Durutalo, Liaki Moli, Uwe Helu, Grant Hattingh, Takuma Asahara, Shota Horie, Craig Millar.

Bronne: Japantimes.co.jp; rank.com; Foxsports.com; therunnersports.com; super.rugby/superrugby/

Meer oor:  Koronavirus  |  Sunwolves  |  Superrugby  |  Covid-19  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.