Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Wroem-wroem, hier kom Trokkie!

Daar is ’n goeie rede waarom daar nie eensgesindheid in die Westelike Provinsie was oor ’n moontlike terugkeer vir die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen nie: Juarno Augustus.

Juarno Augustus vandeesweek op die Stormers se oefenveld in Bellville. Foto: Gallo Images

Augustus, of Trokkie soos hy onder spanmaats bekend staan, word Vrydagaand deur die Stormers op die Jaguares losgelaat in hul Superrugby-wedstryd op Nuweland.

Die hoop is dat hy uiteindelik momentum sal gee aan ’n loopbaan wat weens probleme met sy fiksheid nog nie aan die gang kon kom nie sedert hy in 2017 as die Speler van die Toernooi aangewys is by die o.20-Wêreldkampioenskap.

Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, meen Trokkie se tyd het nou aangebreek.

“Hierdie is die fiksste wat ek Trokkie nog gesien het,” het Fleck Woensdag met die bekendmaking van sy span gesê.

“Trokkie was baie goed in die voorseisoen en ongelukkig dat hy in die laaste minuut van ons laaste oefenwedstryd teen die Boland ’n enkelbesering opgedoen het. Hy verdien lof dat hy baie hard aan sy kondisionering gewerk het,” het Fleck gesê.

Daar lê ’n lang veldtog voor en jy kan deur vir ouens soos Trokkie en Scarra geleenthede te gee die energie en motivering onder die spelers hoog hou.

“Nou moet hy gereeld speel en bestendig wees. Ek sien baie daarna uit om te sien wat hy kan doen. Hy’s ’n eksplosiewe speler, en dodelik voor die doellyn en langs die afbreekpunte. Hy kry vir jou momentum en stuit die teenstanders s’n.”

Augustus vervang Jaco Coetzee in die span wat sy laaste wedstryd teen die Haaie met 16-11 gewen het.

Coetzee was ’n uitblinker nadat hy noodgedwonge die Springbok Sikhumbuzo Notshe moes vervang, maar Fleck wil sy spelers gemotiveerd hou deur soveel as moontlik geleenthede te skep.

Juarno Augustus was moeilik om te keer wanneer hy die bal in die hand gehad het by 2017 se o.20-Wêreldkampioenskap in Georgië. Foto: Getty Images

Augustus is ook die soort bielie wat ’n afrigter soek om ’n spul geharde Argentynse toetsspelers op die agtervoet te dwing.

Met daardie doelwit voor oë maak die Springbok-loskopstut Steven Kitshoff ook ’n terugkeer in die beseerde Ali Vermaak se plek. Vermaak gaan lank met ’n nekbesering buite aksie wees.

Die Jaguares lyk kwesbaar in die skrums en Kitshoff behoort vir die Stormers daar die oorhand te gee.

Langs hom in die voorry is daar ook ’n geleentheid vir Scarra Ntubeni, wat die Bok-haker Bongi Mbonambi vervang.

“Bongi was goed teen die Haaie, maar dis belangrik dat Scarra ’n geleentheid kry omdat hy self baie goed vaar van die plaasvervangersbank af,” sê Fleck.

“Daar lê ’n lang veldtog voor en jy kan deur vir ouens soos Trokkie en Scarra geleenthede te gee die energie en motivering onder die spelers hoog hou.”

Elders keer Dillyn Leyds terug op heelagter in die plek van Damian Willemse, wat ’n belangrike rol van die plaasvervangersbank af sal speel – op losskakel of heelagter.

“Ek het vandeesweek ’n groot verbetering gesien in hoe Damian te werk gaan. Damian het baie goed geoefen. Hy het die x-faktor en begin nou sy voete vind,” sê Fleck.

Daar sal ook van Cobus Wiese verwag word om ’n “groot rol” van die plaasvervangersbank af te speel.

“Cobus het die Curriebeker-reeks met ’n besering misgeloop en hierdie is vir hom ’n welkome terugkeer. Hy kan waarde as nr.4-slot of nr.7-flank bied. Cobus is die laaste paar weke al uiters gretig vir sy kans.”

Stormers:
Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Dan du Plessis, Damian de Allende, SP Marais, Jean-Luc du Plessis, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Corné Fourie, Wilco Louw, Cobus Wiese, Jaco Coetzee, Justin Phillips, Ruhan Nel, Damian Willemse.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Juarno Augustus  |  Stormers  |  Superrugby  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.