Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
JW is die Cheetahs se ...
Super-verrassing
Die senter JW Jonker kom terug huistoe. Hy sal in 2015 vir die Griekwas beskikbaar wees en speel môre in die Baai in sy laaste Curriebeker-wedstryd vir die Pumas. Foto: LOUIS BOTHA | GALLO IMAGES

JW Jonker sal die groot verrassing wees wanneer die Cheetahs Maandag hul vergrote groep vir 2015 se Superrugby-reeks aankondig.

Die 27-jarige Pumas-senter het gister bekendgemaak dat hy vir 2015 ’n kontrak met Griekwas onderteken het met die doel om volgende jaar vir die Cheetahs in die Super-reeks uit te draf.

Jonker was vanjaar een van die Pumas se staatmakers en kom môre-aand in Port Elizabeth in sy laaste Curriebeker-wedstryd vir dié span teen die OP-Kings te staan kom. Hy het vanjaar ook goeie spel vir die Leeus in die Super-reeks gelewer.

“Ek is bitter opgewonde daaroor om terug te keer en moontlik vir die Cheetahs te speel. Ek het in my loopbaan reeds 88 keer vir die Cheetahs uitgedraf. Ek hoop om dit gou 100 wedstryde te maak,” het Jonker gesê.

Sy agent Anthony Johnson het sy skuif bevestig.

“Die hoofrede daarvoor is dat hy Super-rugby wil speel,” het Johnson gesê.

Vanweë sy veelsydigheid kan Jonker as ’n vleuel oorweeg word, maar is buitesenter sy gunsteling-posisie. Hy sal daar met Johann Sadie, Jonathan Francke en JP du Plessis om die Cheetahs se nr. 13-trui meeding.

Sadie speel tans vir die Docomo Red Hurricanes klubrugby in Japan, maar sal saam met die flank Heinrich Brüssow betyds terugkeer vir die Super-reeks.

Jonker, wat aan Grey-kollege in die Rosestad gematrikuleer het, se rugbyloopbaan het in Bloemfontein ontkiem.

Hy het in 2004 en 2005 vir die Vrystaatse se o.18 Cravenweek-span uitgedraf waarna hy later die Vrystaat se o.21- en senior spanne verteenwoordig het. Hy het in 2009 as lid van die Blitsbokke aan die Internasionale Rugbyraad (IRR) se sewes-reeks in George deelgeneem en ook later by die Griffons gaan draai voordat hy in 2011 na die Pumas geskuif het.

Sy naam kan Maandag saam met ander aanwinste soos die veelsydige agterspeler Joe Pietersen, vleuel Sergeal Petersen, losvoorspeler Willie Britz, veelsydige agterspeler Coenie van Wyk, flank Devin Oosthuizen en stut BG Uys s’n op die Cheetahs se vergrote groep verskyn.

Die afrigtingspan van die Cheetahs het reeds verlede Vrydag hier oor hul Super-groep vergader en is dit nog onseker presies hoe groot die groep gaan wees.

Die naam van Adriaan Strauss se opvolger as Super-kaptein sal eers in middel-Desember, net voordat die Cheetahs ’n breek tydens hul voorbereidings geniet, bekend gemaak word. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.