Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Swart Bokke sou nie kla nie’
Nyakane ontken Cosatu se bewerings
Trevor Nyakane en Beast Mtawarira. Foto: Gallo Imaes

Die stut Trevor Nyakane is onbewus van enige ontevredenheid oor spankeuses onder sy Springbok-spanmaats.

Hy het Woensdag op ’n mediakonferensie in Umhlanga, waar die Bok-span vir Saterdag se toets in Buenos Aires aangekondig is, gesê hy en sy spanmaats praat wel oor die Cosatu-rassebom wat vandeesweek gebars het.

Dié vakverbond beweer dat vyf swart Bokke sou kla dat hulle nie speelkans kry nie.

Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris van Cosatu in die Wes-Kaap, het ook ’n skerp aanval op die “wit Springbok-span” gerig en dat Heyneke Meyer as afrigter moet bedank.

Lees ook: ‘Transformasie moet v​an onder na bo geskied’

“Ons as spelers praat daaroor en probeer dit verstaan,” het Nyakane gesê.

“Vir ons is dit niks nie. Dis nie waar nie. Ek is nie bewus van enige swart speler wat dit sou doen nie. Dit is nie so nie.”

Nyakane het gesê hy probeer in ’n week soos dié sy aandag slegs op die toets rig en die Cosatu-rassebom opsy te skuif.

Meyer het Woensdag ses spelers van kleur – Nyakane, die heelagter Zane Kirchner, vleuels Lwazi Mvovo en Bryan Habana, senter Damian de Allende en stut Beast Mtawarira – in sy 23-tal vir Saterdag se vriendskaplike toets teen Argentinië in Buenos Aires ingesluit.

’n Verdere drie spelers van kleur – die flank Siya Kolisi, losskakel Elton Jantjies en skrumskakel Rudy Paige – is ook vir die Bokke se toergroep na Buenos Aires gekies.

Lees ook: Div: ‘Daar is steeds ba​ie rassisme in rugby’

Meyer het gesê verskeie Bokke het met hom oor die rassebom kom praat.

“Baie spelers het na my gekom, ek wil nie name noem nie, en vir my gesê dis onwaar wat in die koerante geskryf is,” het Meyer gesê.

“Hulle het gesê hulle ondersteun my en weet presies waar hulle met my staan. Ek is daar vir hulle. Vir my is almal spelers, almal Suid-Afrikaners en almal is daar om as ’n span die beste vir die land te doen. Dis al wat vir my tel. Ek is wel ten volle toegewyd aan transformasie.”

Die Bokke en Meyer is ná die laaste tyd se drama op en van die speelveld onder geweldige druk voor die Wêreldbeker-rugbytoernooi. Die Bokke kon slegs twee uit hul laaste sewe toetse wen en ’n oorwinning Saterdag in Buenos Aires is ononderhandelbaar.

“Ek het net geleer jy moet jou kop omhoog hou in situasies soos dié en wys dat jy goed genoeg is,” het Meyer gesê.

“Ek was al verskeie kere in dié posisie en is al selfs ’n slag of wat deur die Bulle afgedank. Ek weet wat dit verg om die Wêreldbeker te verower.

“Dit is beslis nie nou die gewenste situasie nie. Spelers waarmee ons begin het, is beseer, benodig wedstrydtyd en moet gekondisioneer word.

“Maar ek glo steeds werklik dat ons die Wêreldbeker kan wen. Ek besef egter dit gaan taai wees en leef nie in ’n droomwêreld nie.”

Lees ook:

MNS het my s​oveel gegee, sê Joost

Die Springbokk​e gaan meer skop

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.