Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tiaan Liebenberg groet rugby
2009: Tiaan Liebenberg trotseer die reën in ’n stryd teen Griekwas. Foto: Gallo Images
2012: Liebenberg sing trots die volkslied in Soweto voor ’n toets teen die All Blacks.
2012: Dié haker sal onthou word vir sy stormlopies soos dié een teen die Waratahs.

’n Hartseer Tiaan Liebenberg het Maandag sy tasse gepak vir die volgende hoofstuk in sy lewe – sonder rugby.

Liebenberg (32), wat vir ’n geruime tyd al deur rugbeserings geteister word, het besluit om uit te tree. Hy trek dié week Bloemfontein toe om in te skakel by ’n familie-onderneming wat skoonmaak- en sekerheidsdienste bied.

Terwyl hy “alles bereik het” wat hy wou, was dit vir Liebenberg baie moeilik om ’n toeskouer te wees terwyl die Westelike Provinsie Saterdag se Curriebeker op Nuweland verower het met ’n sege van 19-16 oor die Leeus.

“Dis wonderlik vir my maats, maar ek is baie hartseer dat ek nie betrokke kon wees nie. In 2012 was ek óók vroeër in die reeks betrokke, maar is toe deur beserings gekelder,” het Liebenberg gesê.

Nietemin verlaat Liebenberg die WP, by wie hy in 2006 van Griekwas af aangesluit het, as ’n dankbare en vervulde mens.

“Ek is vir die rolle wat hulle in my loopbaan gespeel het soveel mense dank verskuldig: Allister Coetzee, Matt Proudfoot, Robbie Fleck, Steph du Toit, Greg Hechter, Rassie Erasmus, André Markgraaff, Johan van Wyk, Jacques Nienaber, Gert Smal en Rob Wagner,” het hy gesê.

“Gert het my tyd gegun om te probeer herstel van my besering voor ek moes uittree en Rob het baie vure namens my doodgeslaan.

“My agent, Hilton Houghton, was óók ’n yster met sy mentorskap.”

Liebenberg het in ’n kortstondige toetsloopbaan in 2012 vyf keer as plaasvervamger-haker vir Suid-Afrika gespeel terwyl Bismarck du Plessis beseer was. Daarna is hy deur beserings bloots gery.

“As ek dít wat ek alles bereik het vooraf aangebied is, sou ek dit met ope arms aanvaar het.

“Die atmosfeer was somber toe ek gisteraand (Sondag) saam met Duane Vermeulen gebraai het, maar ek is nie in sak in as nie. Ek het my vrou, Marlene, en my twee seuntjies, Kian en Janu, aan my sy.”

Liebenberg het hygevoeg dat hy sy lewe sonder rugby sal omhels.

“Rugby berei jou vir die lewe voor met die suksesse en teleurstellings langs die pad.

“Dis altyd moeilik om buite jou gemaksone te beweeg, maar dis nóg iets wat die spel jou leer,” het hy gesê.

“Ek sou graag ’n Wêreldbeker-toernooi wou ervaar het, maar die Hemelse Vader het met elkeen van ons ’n unieke plan. Heyneke Meyer het vir my die geleentheid van toetsrugby gegun en ek is hom en die Bokke se spanbestuurder, Ian Schwartz, baie dank verskuldig.”

Ofskoon hy nie ’n eindstryd in die kleure van die Stormers of WP gewen het nie, was daar vir Liebenberg genoeg goeie tye om met blydskap op sy loopbaan te kan terug kyk. “Ek het saam met van die beste spelers ter wêreld gespeel; ouens soos Jean de Villiers, Schalk Burger, Bryan Habana en Eben Etzebeth,” het hy gesê.

“Dan het ek óók gespeel saam met ouens wat die beste ter wêreld in hul posisies sal word: Jaco Taute, Steven Kitshoff en Frans Malherbe.

“Ek is só bly vir Jaco dat hy oor die naweek goed gespeel het in die eindstryd. Hy is deur donker tye met ’n kniebesering en het ’n moeilike paar weke agter die rug, maar gewys dis nie hoe jy begin nie, maar hoe jy opstaan.”

En vir die media, vir wie min spelers met die verloop van tyd lief bly, was hy óók met enkele uitsonderings dankbaar.

“Ek sal nooit die opskrif in Die Burger vergeet met die eerste artikel wat hier oor my geskryf is nie: ‘Die Kaap kry nóg ’n Tiaan’.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.