Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Transformasie moet van onder na bo geskied’
Twee oud-Bokke uit die 1980’s, Errol Tobias en Divan Serfontein, kies hul Bokspanne. Stephen Nel het vir Tobias, Suid-Afrika se eerste swart Springbok, en Serfontein, ’n voormalige Bokkaptein, uitgevra.
Errol Tobias
Divan Serfontein

KAAPSTAD. – Die Springbok-span is die vlagskip van Suid-Afrikaanse rugby en die sterkste span móét ten alle tye gekies word.

Só sê die voormalige Bokkaptein Divan Serfontein, wat meen transformasie móét van onder na bo geskied. Hy meen daar is in elk geval op verdienste talle aanspraakmakers onder gekleurde spelers vir plekke in Suid-Afrika se 23-tal op enige gegewe dag.

Lees ook: Trevor Nyakane on​tken Cosatu se bewerings

“Ek hou nie daarvan om van transformasie te praat nie, want baie gekleurde spelers verdien om daar te wees.

“Wanneer hulle daar kom, sê mense dán dis oor transformasie,” het hy gesê.

“Dink maar net aan ouens soos Bryan Habana, JP Pietersen, Lwazi Mvovo, Oupa Mohoje, Tendai Mtawarira, Scarra Ntubeni, Siya Kolisi en Juan de Jongh. Vir Seabelo Senatla sal ek sommer nóú al betrek. Hy het vaart, lyk entoesiasties en hardloop goeie hoeke. Ek dink hy verdien ’n geleentheid.”

Senatla, ’n sewes-Springbok, het twee goeie drieë gedruk in die Westelike Provinsie se Curriebeker-sege van 43-19 in Kimberley verlede Vrydag. Hy het in November verlede jaar saam met die Bokke na Europa getoer, maar nie speelkans gekry nie.

Serfontein meen die Bokafrigter, Heyneke Meyer, het bloot ’n oordeelsfout begaan deur vir Jesse Kriel bo Lwazi Mvovo op vleuel te kies in verlede Saterdag se nederlaag van 25-37 teen Argentinië in Durban.

Om ’n rassekwessie daarvan te maak, is volgens Serfontein verkeerd.

“Dit sou net daarin gegrond gewees het dat hy vir Jesse baie hoog aanslaan, maar dit was die verkeerde besluit. Hy moes vir Jesse as heelagter gekies het, want dis immers sy oorspronklike posisie,” het Serfontein gesê.

“Heyneke sou dán insig kon kry op hoe Jesse op heelagter en Lwazi op die vleuel sal vaar. Dit was nie oor kleur nie. Enigiemand kon ter sprake gewees het.”

Lees ook: Div: ‘Daar is stee​ds baie rassisme in rugby’

Tans sal Serfontein vir Habana en Senatla as gekleurde spelers as vleuels in sy Bok-beginspan hê, maar ’n verdere vyf op die plaasvervangerbank in die haker Scarra Ntubeni, die loskopstut Trevor Nyakane, die losvoorspelers Oupa Mohoje en Siya Kolisi, en die vleuel JP Pietersen.

Die voormalige Boklosskakel Errol Tobias stem nie saam met etlike van Meyer se keuses nie, maar soos Serfontein glo hy nie dit gaan oor ras nie.

“Politici sal van kwotas praat, terwyl ’n rugbymens soos ek dit oor die boeg van swak spankeuses sal gooi,” het Tobias gesê.

“Suid-Afrika het op verdienste genoeg spelers vir kwotas om nie ter sprake te kom nie. Ek sal graag net wil sien dat hulle meer blootstelling in die Super-reeks kry.”

Hy meen die “transformasie-bohaai” is die uitvloeisel van ’n gebrek aan mededinging in die Bok-groep.

“Ek dink Juan de Jongh en Gio Aplon is stief behandel. Toe hulle wegval, is die mededinging binne die groep afgewater. Interne mededinging is een van ’n afrigter se grootste bates. Dit lyk of beloftes aan senior spelers gemaak is.”

■ Errol sê dis die span wat hy nou sal speel. Hy sal ná Saterdag se toets sê wat sy Wêreldbeker-span is.

15. Gio Aplon*

14. Cornal Hendricks*

13. Jesse Kriel

12. Damian de Allende

11. Bryan Habana*

10. Patrick Lambie

9. Rudy Paige*

8. Jaco Kriel

7. Willem Alberts

6. Schalk Burger

5. Victor Matfield

4. Eben Etzebeth

3. Marcel van der Merwe

2. Adriaan Strauss

1. Trevor Nyakane*

Die volgende gekleurde spelers sal op die plaasvervangerbank wees: Lwazi Mvovo (vleuel), Elton Jantjies (losskakel), Siya Kolisi (losvoorspeler), Tendai Mtawarira (loskopstut).

Divan Serfontein: ''Ek hou nie daarvan om van transformasie te praat nie, want baie gekleurde spelers verdien om daar te wees.''

15. Willie le Roux

14. Bryan Habana *

13. Een van Damian de Allende, Jesse Kriel of Juan de Jongh*

12. Jean de Villiers

11. Seabelo Senatla *

10. Patrick Lambie

9. Cobus Reinach

8. Duane Vermeulen

7. Pieter-Steph du Toit

6. Schalk Burger

5. Lood de Jager

4. Eben Etzebeth

3. Vincent Koch

2. Bismarck du Plessis

1. Steven Kitshoff.

Die volgende gekleurde spelers sal op die plaasvervangerbank wees: Scarra Ntubeni (haker), Trevor Nyakane (loskopstut), Oupa Mohoje, Siya Kolisi (albei losvoorspelers), JP Pietersen (vleuel).

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.