Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Trevor groet met heimwee
Wil vir oulaas ’n goeie vertoning teen Leeus lewer
Binnekort Blou Bulle! Die agtsteman Lappies Labuschagné (links) en stut Trevor Nyakane kan vandag hul spanmaats in Johannesburg met ’n laaste Vrystaat-vertoning groet. Die Cheetahs staan egter ’n buitekans om ’n Curriebeker-h
​Vandag

01:45-11:25: Goudkus-sewestoernooi (SS 1) 

12:40: Nasionale 0.21-liga: Goue Leeus t. Vrystaat (SS 1)

15:00 Curriebeker: Goue Leeus t. Vrystaat-Cheetahs (SS 1, M-Net)

17:05: Curriebeker: WP t. Haaie (SS 1, M-Net)

19:10: Curriebeker: Blou Bulle t. Griekwas (SS 1, M-Net) 

In die sewe jaar wat Trevor Nyakane in Bloemfontein rugby gespeel het, het hy heelwat vriende gemaak wat naby sy Springbok-hart is.

Daarom wil die stut vandag in Johannesburg, in waarskynlik sy laaste Curriebeker-wedstryd vir die Vrystaat, vir oulaas alles gee. Hy meen dit was vandeesweek emosioneel om te dink dat hy dalk sy Cheetah-spanmaats in hul laaste ligawedstryd moet groet.

’n Nuwe uitdaging lê vir die 24-jarige Nyakane voor wanneer hy hom by die Blou Bulle aansluit.

Dit kan dus sy en die agtsteman Lappies Labuschagné, wat ook ’n Bul word, se swanesang teen die Leeus wees.

Al hoop Nyakane dit is nie sy laaste Vrystaat-wedstryd nie, moet sy span die Rooibontes klop en hoop Griekwas kan die Bulle in Pretoria verras. Dan kan die Vrystaters ’n halfeind haal.

Nyakane het ná skool hierheen verhuis en aanvanklik vir die Sentrale Universiteit vir Tegnologie se derde span uitgedraf.

Daarna het hy die Vrystaat op o.19- en o.21-vlak verteenwoordig, voordat hy Vodacombeker-, Curriebeker- en Super-rugby gespeel het.

“Dit is vreemd, uitdagend en emosioneel om te dink ek gaan die ouens verlaat,” het dié oud-leerling van die Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen gesê.

“Ek was so lank saam met baie van hulle hier. Ek het ná skool hiernatoe gekom, het baie goeie vriende gemaak en van hulle is naby aan my hart.

“Hulle was baie goed vir my en dis hartseer om hulle agter te laat, maar dit is die enigste manier hoe ’n ou vorentoe kan beweeg.”

Hy meen hy is op ’n goeie plek en sy selfvertroue is hoog nadat hy onlangs deel van die Bokke se veldtog in die Rugby-kampioenskap was.

“Ek sal graag op ’n hoogtepunt wil klaarmaak en met ’n goeie sege afsluit,” het hy gesê.

“Ek sal persoonlik ook vir oulaas ’n goeie vertoning vir die span wil lewer.”

Saam met die hartseer van groet, is Nyakane ook opgewonde oor sy Bulle-toekoms.

“Dit is ’n nuwe uitdaging, nuwe spelers, ander omgewing en strukture. Ek sal vinnig moet aanpas en sien uit om daar te speel. Ek glo ek sal my tyd in Pretoria ook geniet.”

 Buiten Labuschagné-hulle wat hul laaste wedstryd speel, is die plaasvervanger-haker Hercu Liebenberg se kontrak ook nie hernu nie.

Dan is die haker Adriaan Strauss, wat weens sy Bok-kontrak nie mag speel nie, ook nog tot die einde van die maand ’n Cheetah. Hy sluit hom ook by die Bulle aan.

​Spanne

Leeus: Marnitz Boshoff, Ruan Combrinck, Lionel Mapoe, Howard Mnisi, Courtnall Skosan, Jaco van der Walt, Ross Cronjé, Warren Whiteley (k), Derick Minnie, Jaco Kriel, Franco Mostert, Martin Muller, Ruan Dreyer, Robbie Coetzee, Schalk van der Merwe. PLAASVERVANGERS: Armand van der Merwe, Jacques van Rooyen, Julian Redelinghuys, Willie Britz, Warwick Tecklenburg, Mark Richards, Harold Vorster.

Vrystaat: Clayton Blommetjies, AJ Coertzen, JP du Plessis, Joubert Engelbrecht, Raymond Rhule, Willie du Plessis, Sarel Pretorius, Lappies Labuschagné, Oupa Mohoje, Tienie Burger, Francois Uys, Lood de Jager, Trevor Nyakane, Torsten van Jaarsveld (k), Caylib Oosthuizen. PLAASVERVANGERS: Hercu Liebenberg, George Marich, Henco Venter, Neil Claassen, Shaun Venter, Pieter-Steyn de Wet, Maphutha Dolo.

Skeidsregter: Stuart Berry.

Assistent-skeidsregters: Ben Crouse, Francois de Bruin.

Televisie-skeidsregter: Johan Greeff.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.