Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
VRK
Leeus kies 33 vir veldtog in Europa

Ná ’n teleurstellende Curriebeker-veldtog vertrek die Leeus Donderdag na Europa vir wat hulle hoop ’n nuwe daeraad sal wees – en met ’n paar leenspelers wie se wengewoonte hopelik op die res sal afsmeer.

Die Johannesburgers het Dinsdag ’n groep van 33 spelers vir hul eerste vier wedstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) aangekondig. Ingesluit in dié groep is vyf spelers van die Pumas – Pieter Jansen van Vuren, Eddie Fouché, Matt More, Morgan Naude en Ginter Smuts – wat drie weke gelede ’n haarbreedte weg van ’n plek in die Curriebeker-halfeindronde gekom het.

Eddie Fouché, losskakel van die Pumas, sal eersdaags in rooi, eerder as pienk, uitdraf, nadat hy as leenspeler in die Leeus se groep vir hul komende VRK-toer ingesluit is. Foto: Gallo Images

Dit kan ’n groep Leeus, wat op die eerste naweek van Augustus laas oor ’n sege kon jubel, net baat om spanmaats wat nie deur daardie trauma is nie in hul geledere te hê.

Met Fred Zeilinga nie in die Leeus se VRK-groep nie, kan ’n mens aanneem dat Fouché sterk in die wedloop om die Johannesburgers se nr. 10-trui is. Hy en die 20-jarige Jordan Hendrikse is die enigste losskakels wat Europa toe reis.

Die Leeus sal die eerste been van hul VRK-veldtog sonder die Springbokke Ross Cronjé (skrumskakel) en Willem Alberts (slot) aanpak, wat albei beseer is, maar het Smuts en Van Vuren nader gehark om hul spens in daardie posisies vol te hou.

Op Ellispark is daar groot opgewondenheid oor die nuwe hoofstuk wat op die unie wag. Ná meer as 18 maande waarin hulle nooit buite die landsgrense was nie en derby op derby gespeel het, sal hulle vir die volgende maand in vier verskillende lande speel.

Hul eerste uitdaging wag op 24 September in Parma teen Italië se Zebré, waarna hulle ’n week later in Llanelli die Scarlets moet probeer tem. Kragmetings met die Glasgow Warriors en Ulster volg daarna.

Suid-Afrika is steeds op Brittanje se reisrooilys, wat meegebring het dat geen van die land se vier franchises hul VRK-veldtogte in Wallis of Skotland kon begin nie. Die Leeus en Stormers sal eerste in Italië speel en die Bulle en Haaie in Ierland.

Rudolf Straeuli, uitvoerende hoof van die Leeus, het Dinsdag gesê dit is so gereël omdat Suid-Afrikaanse reisigers eers tien dae en tien nagte in ’n ander land moet wees voordat hulle ’n Britse land mag betree.

Met die Johannesburgers wat Donderdag vlieg en dus Vrydag in Italië sal wees, mag hulle dus eers op die Dinsdag voor hul wedstryd teen die Scarlets na Wallis reis.

Die Leeus-groep vir die eerste fase van die VRK:

Voorspelers: PJ Botha, Morné Brandon, Ruan Dreyer, Jannie du Plessis, Francke Horn, Pieter Jansen van Vuren, Jaco Kriel, Morgan Naudé, Reinhard Nothnagel, Asenathi Ntlabakanye, Carlu Sadie, Sibusiso Sangweni, Ruben Schoeman, Sti Sithole, Ruhan Straeuli, Emmanuel Tshituka, Vincent Tshituka, Wilhelm van der Sluys en Jaco Visagie.

Agterspelers: Eddie Fouché, Jordan Hendrikse, Sibahle (Rabz) Maxwane, Matt More, Burger Odendaal, Stean Pienaar, Manuel Rass, Divan Rossouw, Wandisile Simelane, Ginter Smuts, Jamba Ulengo, Morné van den Berg, EW Viljoen en André Warner.

    Meer oor:  Leeus  |  Verenigde Rugbykampioenskap  |  Vrk
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.