Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
VRK
Nóg aanwinste vir Stormers voor VRK begin

Manie Libbok sal straks die Stormers se losskakel wees wanneer hul veldtog in die Verenigde Rugbykampioenskap op 25 September teen die Italiaanse span Benetton in Treviso afskop.

Manie Libbok sal sy rugby vir die volgende drie jaar vir die Stormers en WP speel. Die verwagting is dat hy die Stormers se veldtog in die Verenigde Rugbykampioenskap op losskakel sal afskop. Foto: Gallo Images

Western Province Professional Rugby (WPPR), wat beroepsrugby vir die WP-rugbyunie bedryf, het Woensdag aangekondig kontrakte van drie jaar is met Libbok en die slot Adré Smith gesluit. Libbok sluit aan van die Haaie, terwyl Smith aan die Griekwas gekontrakteer was.

’n Ou bekende in die 36-jarige vaskopstut Brok Harris keer ook terug, maar slegs op kort termyn vir die komende toer indien die nood in die voorry sou druk.

Dit beteken dat daar nou ses aanwinste is sedert die WP se Curriebeker (CB)-veldtog tot ’n einde gekom het – bogenoemde drie saam met die leenspelers Junior Pokomela, Willie Engelbrecht (albei losvoorspelers) en die skrumskakel Stefan Ungerer.

Adré Smith sal die Stormers se diepte op slot aanvul vir hul veldtog in die Verenigde Rugbykampioenskap nadat hy ’n kontrak van drie jaar met die Westelike Provinsie gesluit het. Foto: Gallo Images

Vir die Stormers was dit belangrik om hul diepte voor ’n veldtog aan te vul wat met ’n toer van wedstryde teen Benetton, Munster, Edinburgh en die Dragons afskop. Daar is tans sewe Stormer-spelers by die Springbokke.

Ofskoon Libbok losskakel sowel as heelagter kan speel, het John Dobson, die Stormers se afrigter, hom waarskynlik vir die nr. 10-trui in gedagte. Tim Swiel het in die beseerde Kade Wolhuter se afwesigheid die fort op losskakel gehou, maar ondanks sy deugde as stelskopper is hy waarskynlik nie die langtermynoplossing daar nie.

Enige losskakel sal egter sukkel agter ’n pak voorspelers sonder spesialisslotte, wat Smith ’n goeie aanwins kan maak nadat die WP in die pylvak van hul CB-veldtog nie meer hemelbesems tot hul beskikking gehad het nie. Salmaan Moerat is nou ook weer fiks ná maande op die krukkelys met ’n nekbesering.

Dobson is in sy noppies met die aanwinste van Libbok en Smith.

Brok Harris (regs) in aksie vir die Dragons, die Walliese span wat hy die afgelope sewe seisoene verteenwoordig het. Foto: Getty Images

“Manie is bekend as ’n speler wat van oral op die veld gevaarlik is met die bal in die hand, terwyl Adré met én sonder die bal momentum gee,” sê hy.

“Hulle verpersoonlik waarvoor die span wil staan – om taai voorlangs en vaardig agter te wees. Hulle sal waardevolle aanwinste vir hierdie seisoen wees en ons weet dat hulle hard sal werk om hul spel oor die volgende drie jaar tot die volgende vlak te neem.”

Ebrahim Rasool, voorsitter van WPPR, het daarop gewys dat sowel Libbok as Smith saam met die ervaring wat hulle bied ook nog as spelers sal groei.

“Albei is maar 24, so hulle kan ’n onmiddellike impak maak en ook in die komende jare binne ons stelsel groei,” sê hy.

“Ons is baie opgewonde om te sien wat hulle ons sal kan bied.”

Indien Harris speelkans kry, sal hy op ’n loopbaan voortbou waarin hy tussen 2006 en ’14 vir die WP 120 en die Stormers 93 wedstryde gespeel het. Hy het in November 2014 by die Dragons in Wallis aangesluit.

Meer oor:  Stormers  |  Wppr  |  Verenigde Rugbykampioenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.