Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
VS o.21-losskakel beskikbaar vir Griekwas
Die Vrystaatse o.21-losskakel André Swarts (met bal) gaan hom volgende seisoen by Griekwas aansluit. Foto: Gallo Images

BLOEMFONTEIN. – Die Vrystaatse o.21-losskakel, André Swarts, en die SWD-haker, Marius Fourie, tel albei on die Poubloues se lys gekontrakteerdes vir 2016.

Veral Swarts se koms sal welkom wees, aangesien diepte op losskakel tans ’n groot hoofpyn vir die nuwe afrigter, Peter Engledow, gaan wees.

Die huidige losskakel, Francois Brummer, vertrek aan die einde van die maand na die Pumas waar hy vir 2016 ’n nuwe kontrak onderteken het.

Die enigste ander erkende losskakel in die groep is Clinton Swart, hoewel hy in die Curriebeker-reeks en ook voorafgaande kwalifisering op senter groot indruk gemaak het.

Swarts het by die Vrystaatse jongspan gewys hy kan die Poubloues se oplossing in die nr.10-trui wees.

Hy was ook die voorste puntemaker vir die Vrystaat in die pas afgelope nasionale o.21-kompetisie.

Met AJ le Roux en Sidney Tobias die enigste erkende hakers wat hulself in die Noord-Kapenaars se gekontrakteerde groep bevind, is Fourie se koms as’t ware soos manna uit die hemel.

Hy het vroeër vanjaar vir die Westelike Provinsie in die Curriebeker-reeks as plaasvervanger diens gedoen, terwyl Scarra Ntubeni met ’n besering langs die kantlyn gesit het.

PJ Vermeulen (senter, uitgetree), Ruhan Nel, Stix Ngcobo (albei Blitsbokke), Carel Greeff (OP-Kings), Tian Meyer, Michael van der Spuy, Danie Mienie (almal Vrystaat), Rocco Jansen (uitgetree) en Leon Karemaker (uitgetree) is van der vernaamste spelers wat Griekwas moes afstaan.

Na verneem word gaan Jansen die sakewêreld betree, terwyl Karemaker glo ’n pos by die Hoërskool Diamantveld in Kimberley aanvaar het.

Nuwelinge wat hulle reeds tot Griekwas verbind het sluit in AJ Coertzen (Vrystaat), Alshaun Bock (SWD), Uzair Cassiem, Jason-Colin Fraser (albei Pumas) en Tiaan Dorfling (Luiperds).

Staatmakers soos die senter JW Jonker, stut Steph Roberts, slot Jaco Nepgen en flank Hilton Lobberts sal weer beskikbaar wees.

  Voorlopige lys van gekontrakteerdes:

Voorspelers: Jonathan Adendorf, Uzair Cassiem, Marius Fourie, Jason-Collin Fraser, Jonathan Janse van Rensburg, Stephan Kotze, Lux Koza, AJ le Roux, RJ Liebenberg, Hilton Lobberts, Devon Martinus, Zito Mzwanele, Jaco Nepgen, Steph Roberts, Ewald van der Westhuizen, Wendall Wehr, Sidney Tobias. Agterspelers: Ederies Arendse, Alshaun Bock, AJ Coertzen, Tian Dorfling, Ntabeni Dukisa, Jonathan Francke, JW Jonker, Kyle Lombaard, Christiaan Meyer, Gouws Prinsloo, Clinton Swart, André Swarts, Eric Zana.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.