Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vaatjie gee terug aan Vishuis
Franco van der Merwe

BLOEMFONTEIN. – By die trui-oorhandiging op sy eerste Shimla-toer het almal gewonder hoekom ene Franco van der Merwe laat is om sy trui te ontvang.

Wie’s Franco? Toe die nederige reus opstaan om sy blou trui te ontvang, was daar tien teen een ’n sug van verwondering: “O, dis Vaatjie!”

Van der Merwe is die afrigter van Huis Abraham Fischer (Vishuis) wat Maandag hier in die Varsitybeker-eindstryd vir koshuise teen Mopani van die Tukkies speel.

Hy het as leerling aan Grey-kollege nooit die geleentheid gekry om ’n eerstespan-trui oor die kop te trek nie. Trouens, die sewende span was die hoogste vlak wat hy verteenwoordig het.

“Ek en Justin (Pappin, Shimla-stut) het die skrum vir die sewende span geanker.”

Ná skool het Vaatjie hom by die stadshuis Veritas aangesluit.

“Ek was vir drie jaar by Veritas en daar het ek eers in my derde jaar vir die eerste span gespeel.”

Hy het Vishuis se HK-sport van destyds, Enrico Akker, se oog getref en is genooi om vir Vishuis te speel in ’n wedstryd teen die Barbarians.

In 2012 het hy die Shimlas op die Ussa-week verteenwoordig. Hy het gedink sy rugbyloopbaan is iets van die verlede, maar die Shimlas het ’n stut-krisis gehad en hy is gevra of hy nie sy meestersgraad in regte wil doen, om sodoende steeds in aanmerking vir die Shimlas te kom.

Drie jaar later en Van der Merwe het ’n paar Varsitybeker-, Vodacombeker- en selfs Curriebeker-wedstryde in die Eerste Liga agter sy naam.

Hy spog boonop ook met ’n wennersmedalje in die Eerste Liga wat hy verlede jaar saam met die Griffons gewen het.

Verder wil hy graag weer die Shimlas later vanjaar in die Stadsbeker-liga verteenwoordig.

Hy rig af omdat hy aan Vishuis wil teruggee, omdat die koshuis soveel deure vir hom oopgemaak het.

“Ek het nie die rugbykennis om hoër af te rig nie. Ek plaas ’n enorme premie op harde werk en die basiese dinge van die spel, want dit is hoe ons by die Shimlas gespeel het,” het hy gesê.

“Michael Horak, destydse Shimlas-breier, het een keer vir my gesê dat ek nie die beste speler is nie, maar my harde werk het my gebring waar ek is. Ek vat dit as ’n reuse-kompliment.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.