Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vandag 20 jaar later: Die slag van Boet Erasmus
Joost van der Westhuizen word deur ’n Kanadees gepak tydens die Slag van Boet Erasmus in Port Elizabeth. Foto’s: Gallo Images en Getty Images
Die skeidsregter, David McHugh, het jare later vir Dalton jammer gesê.

’n “Behoorlike linkervuishou”, ’n eensame draffie terug kleedkamer toe, politiekery in die nadraai van die voorval en ’n verskoning jare later.

Dit is die nalatenskap van die “Slag van Boet Erasmus” waartydens die Springbokke en die Kanadese in ’n allemintige bakleiery betrokke was in hul groepwedstryd tydens die Rugby Wêreldbeker in Port Elizabeth op 3 Junie, 1995.

Suid-Afrika het uiteindelik 20-0 gewen, nadat die wedstryd twee keer deur die Boet Erasmus-stadion se sukkelende spreiligte onderbreek is.

Lees ook: 25 Mei 1995 ​ekstra spesiaal

Die Bokke James Dalton en Pieter Hendriks se Wêreldbeker-drome was na die wedstryd aan skerwe, aangesien hulle vir hul aandeel in die bakleiery vir onderskeidelik 30 en 90 dae geskors is.

Beide Dalton en Hendriks onthou die bakleiery nog goed.

“Ons het geweet dit gaan ’n fisieke stryd wees, en ons het geweet Kanada sou negatiewe taktiek gebruik om ons te ontsenu,” het Hendriks, die vleuel wat die Bokke se held tydens hul openingsoorwinning teen Australië was, gesê.

“Daar was baie voorvalle van die bal af, aangesien hulle glad nie goed genoeg was om ons te klop nie,” het Hendriks gesê.

Die bakleiery het ontstaan na Kanada se heelagter, Scott Stewart, vir Hendriks met die vuis bygekom het.

Dis toe Dalton betrokke geraak het. “Ek het net probeer om my spanmaats te beskerm,” het Dalton gesê.

“Ek het eintlik geen reël oortree nie. Ek het niemand geskop, gebyt of geslaan nie. Ek was ongelukkig die derde ou wat aangesluit het, en volgens die reëls moes ek gestraf word.”

Hendriks het geskerts dat hy “darem ’n behoorlike linker-vuishou ingekry het”.

Dalton is ook nie spyt nie.

“Dit is nie wat my as Springbok gedefinieer het nie. Ek het ’n uitstekende loopbaan gehad. Ek wens net die uitkoms was anders,” het Dalton gesê.

Dalton dink ook nou nog aan die ongeloof wat hy ervaar het toe die Ierse skeidsregter, David McHugh, hom van die veld gejaag het.

“Dit was ’n baie eensame draf na die kleedkamers toe – ek onthou nog die stilte.”

McHugh het egter, jare later, vir Dalton om verskoning gevra.

“Dit beteken hy weet hy het ’n fout gemaak,” het Dalton gesê.

Dalton het Dinsdag gesê die Bokke het die wedstryd en die bakleiery gewen.

“Ek het nog nooit ’n fight in my lewe verloor nie.”

Hendriks het erken dat hy geskop en geslaan het, maar hy het Dinsdag beweer dat sy uiteindelike skorsing van 90 dae polities gemotiveerd was “omdat ons in daai stadium ’n spierwit span gehad het”.

Chester Williams het eers na Hendriks se skorsing by die Springbokke aangesluit.

Volgens Hendriks is hy teleurgesteld in hoe hy na die insident behandel is.

“Sarfu het selfs gesê hul sal my nie ondersteun indien ek appèl teen my skorsing wil aanteken nie. Ek het ook nie ’n Wêreldbeker-medalje gekry nie.”

Só is in ’95 oor die wedstryd berig

Die voormalige Bok-vleuel, Pieter Hendriks, tydens die wedstryd teen Kanada. Hy is later vir 90 dae geskors weens sy aandeel in die bakleiery tydens die wedstryd. Foto: Gallo Images

Port Elizabeth. – Baie moeilik om ’n wedstrydverslag te skryf oor ’n wedstryd wat vir duisend redes onthou gaan word voordat enigiemand gaan onthou dat daar rugby gespeel is ook.

Suid-Afrika het deurgedring na die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi deur ’n moedige Kanada met 20-0 in die Boet Erasmus-stadion te klop. Met rustyd was die telling 17-0.

Die Bokke was beter as hul 20 en Kanada beter as hul 0. Maar dit tersyde.

Die vraag is of die prys wat Francois Pienaar-hulle vir die sege betaal het, nie veels te hoog was nie. Die afstuur van James Dalton beteken dat die Bokke die res van die toernooi met 25 spelers - waarvan net 1 haker - sal moet aanpak.

Dalton was duidelik ’n gemerkte man. Die bakleiery het ontstaan na ’n betrekhou deur die Kanadese heelagter, Scott Stewart, op die Springbokvleuel Pieter Hendriks.

Hannes Strydom is in die proses boonop geklits dat sy oogbank op drie plekke gesny is. Boonop moes die vleuel Gavin Johnson en die losskakel, Joel Stransky, die veld verlaat na stampe teen die kop.

Nadat die wedstryd ’n driekwartier laat begin het weens die Boet Erasmus spreiligte wat op die ontydigste moontlike tyd die gees gegee het, het die tuisspan nie gras onder sy voete laat groei nie. In die vaste fasette was die groen en goud hul teenstanders strate oor. Nadat beserings die Kanadese genoodsaak het om losvoorspelers op slot te speel, was dit altyd waarskynlik dat hulle klippe sou kou, maar die stewige skrumwerk van Suid-Afrika het nietemin die tonge los gehad en tot twee oorstoot drieë gelei vir agsteman, Adriaan Richter.

Kanada het vir die soveelste maal onderstreep dat hy ’n span is wat dalk nog met die groot honde kan saamgesels.

As jy gisteraand ’n sport-skouspel wou sien, was Port Elizabeth die verkeerde plek om te wees. Hiervoor was die wedstryd self te patroonmatig. Maar dis te betwyfel of die poppe iewers met meer ywer ge-tango het as hier.

- Louis de Villiers

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.