Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Varsitybeker
Swys de Bruin sien uit na pos by Shimlas

Swys de Bruin sien sy nuwe betrokkenheid by die Shimlas as ’n sirkel wat voltooi word by sy alma mater waar hy in sy studentedae ook klubrugby vir hulle gespeel het.

Die 61-jarige De Bruin, voormalige hoofafrigter van die Leeus, is Dinsdag vir twee jaar as direkteur van afrigting by die Shimlas aangestel.

Swys de Bruin kan nie wag om in sy nuwe pos by die Shimlas te begin nie. Foto: Gallo Images

“Dis vir my ’n groot eer en voorreg om by die Shimlas betrokke te wees. Ek is angstig soos ek daarna uitsien,” sê De Bruin.

André Tredoux, wat voorheen by die Universiteit van die Vrystaat as breier betrokke was, is die nuwe hoofafrigter in die plek van Pote Human.

Human was net vir een seisoen as hoofafrigter gekontrakteer. Hy gaan sy loopbaan in Texas, Amerika, as breier van die Houston SaberCats voortsit.

Twee voormalige Springbokke, die losvoorspeler

Hendro Scholtz en haker Tiaan Liebenberg, is ook deel van die Shimlas se afrigtingspan.

Scholtz is ’n voormalige hoofafrigter van Shimlas, terwyl Tiaan Liebenberg, oudhaker van die Westelike Provinsie, die Ixias in die Varsitybeker-reeks help afrig het.

De Bruin, wat benewens by die Leeus ook by verskeie ander provinsiale spanne betrokke was, was ook al ’n hulpafrigter van die Springbokke.

Hy was die laaste ruk as ’n “Call up Camp”-afrigter betrokke, wat onder meer opleiding aan afrigters en jong spelers gebied het.

“André Tredoux was ook een van die breiers daar saam met my. Hy het baie ervaring in Japan opgedoen en ek sien daarna uit om weer saam met hom te werk,” sê De Bruin.

Tredoux, ook ’n oud-Kovsie, was ook by ’n klubspan in Rusland betrokke voordat hy die Madibaz vanjaar in die Varsitybeker-reeks afgerig het.

Die onderhoude vir die breierspos is Vrydag gehou.

Mark Nicholls en Rashied Isaacs voltooi die bestuurspan.

Die Shimlas het met dié nuwe aanstellings gewys hulle is ernstig om weer ’n krag te word.

Hulle het vanjaar sewende onder die tien spanne in die Varsitybeker-reeks geëindig. Hulle het in 2015 die eerste en enigste keer tot nog toe die trofee gewen toe hulle die Pukke met 63-33 in die eindstryd afgeransel het.

De Bruin-hulle se aanstelling behoort belowende spelers te lok, terwyl plaaslike talent voortaan ook nie ander heenkome sal gaan soek nie.

De Bruin sê juis die uittog van die streek se eie spelers op die N1 na die noorde is een van die dinge wat hulle beoog om stop te sit.

“My pos is verder tweeledig. Benewens om die afrigters regstreeks op te lei, gaan ek ook betrokke wees by die manier van dinge doen,” sê De Bruin.

“Die prentjie wat ek sien as ek aan die Shimlas dink, is hardlooprugby.”

Meer oor:  Shimlas  |  Swys De Bruin  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.