Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
OUD-BOKKAPTEIN OOR WB-KRISIS
WB: Francois Pienaar sê koppe moet rol
Francois Pienaar.

Birmingham. – Die Springbokke sal op skrumskakel, losskakel en binnesenter moet raakvat as hulle enigsins hoop om hul Wêreldbeker-veldtog weer terug op koers te kry.

Francois Pienaar, ’n gewese Bok-kaptein en flank, skryf in sy rubriek in die Engelse dagblad The Times koppe moet ná die nederlaag van 34-32 teen Japan rol. Die Bokke se volgende wedstryd in Groep B is Saterdag hier teen die fisieke Samoaanse span.

“Ek het altyd gesê 9, 10 en 12 gaan deurslaggewend wees,” sê Pienaar.

“Hulle kort nou bestendigheid met hul spankeuses, die sterkste span moet weekliks speel en geen voorbedagte veranderinge moet in die tweede helfte aangebring word nie. Die leiers moet nou ook sterk staan.”

Die Bokke het Maandagmiddag hier die eerste keer ná hul teleurstellende vertoning in Brighton geoefen en dit sal verbaas as Heyneke Meyer besluit om geen veranderinge aan bogenoemde posisies aan te bring nie.

Lees ook:

Trane in Bok-kamp

‘Springbokke se swak vorm was die probleem’

‘Japan glo vas Wêreldbeker sal syne wees’

‘Jonges moet help om te red’

Michael Cheika kies 2 baljagters

Fourie du Preez behoort Ruan Pienaar op skrumskakel te vervang, hoewel die aanvanklike plan was dat Du Preez eers speelkans van die bank af sou kry om sy spelpeil ná ’n kniebesering te herwin. Dié beplanning kon noodgedwonge ná die nederlaag in Brighton verander het.

Pat Lambie kan as losskakel behou word, hoewel ook hy soos die meerderheid van sy spanmaats nie Saterdag op sy stukke was nie.

Handré Pollard was goed in die Rugbykampioenskap-toetse teen die Wallabies en All Blacks.

Hy het ook ’n impak gemaak toe hy as ’n plaasvervanger teen Japan opgestuur is en behoort sy plek in die beginspan te herwin.

Die Bok-afrigter het ook die keuse om die ervare Morné Steyn te kies.

Daar sal ook met groot belangstelling gekyk word of Meyer sal besluit om Jesse Kriel en Damian de Allende as ’n senterpaar te herenig. Gegewe hul vertoningslys vanjaar is hulle die Bokke se beste senterpaar.

’n Nederlaag teen Samoa kan die einde van die Bokke se Wêreldbeker-aanslag beteken en Pienaar voorspel ’n riller.

“Frankryk het in 2011 twee groepwedstryde verloor en steeds ’n kans gehad om die Wêreldbeker te wen. Ek twyfel of ons so gelukkig sal wees,” sê Pienaar.

Die twee boonste spanne in elke groep sal vanjaar tot die kwarteindstryde deurdring.

“Kyk na Engeland in 2007. Wat het daar gebeur? Engeland is vroeg verniel – deur die Bokke – maar toe het die spelers hand opgesteek, die kultuur in die span verander en vir mekaar gespeel.”

Meyer kondig Woensdag sy 23-tal aan.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.