Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WB: ‘Jonges moet help om te red’
Victor Matfield (links) en Jean de Villiers, die Bok-kaptein, lyk bedeesd tydens die oefensessie in Birmingham. Foto: Joe Giddens, AP

Birmingham. – Die jonges het nou net so ’n groot verantwoordelikheid soos die seniors om weer die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog terug op koers te kry.

Die Bokke se voorste speler in die verloortoets teen Japan, die 22-jarige Lood de Jager, het gesê hy en die ander jonges besef die belang daarvan voor Saterdag se Groep B-wedstryd hier op Villapark teen Samoa.

“Ons almal was teen Japan op die veld en moet net soveel verantwoordelikheid (vir die nederlaag soos die seniors) aanvaar,” het De Jager gesê.

“Ons (juniors) kan help om die gees te verbeter. Ons almal is regtig nie op ’n goeie plek nie. Hopelik kan ons energie verskaf en sake die naweek regstel.”

Lees ook:

Francois Pienaar sê koppe moet rol

Trane in Bok-kamp

‘Springbokke se swak vorm was die probleem’

Suid-Afrikaners se sportmangees ‘ongelooflik’

Oues moet uit, dan kan Bokke wen, sê Gwede Mantashe

Bokke sal geskiedenis maak as hulle beker wen

Die Bok-spelers en selfs die agterlyn-afrigter Ricardo Loubscher kon in Maandag se twee mediakonferensies hier in die spanhotel min antwoorde verskaf oor wat presies teen Japan verkeerd verloop het. Soos verwag is, glo almal steeds dat die Bokke tot die uitkloprondes kan deurdring.

“Dit is ’n bitter moeilike tyd vir die Springbokke,” het Francois Louw, flank van die Bokke, gesê.

“Die manne is hartseer, nie net vir onsself nie, maar vir die land. Ons is nou met ons rug teen die muur, maar ons Wêreldbeker-lot is steeds in ons eie hande. Gelukkig is die strukture van die toernooi so dat ‘n span nie ná een nederlaag uitgeskakel word nie.”

Die Bokke se onbestendigheid – wat slegs drie seges in hul laaste nege toetse insluit – is ‘n bekommernis vir Louw en sy spanmaats. “Ons besef dit en moet dit regstel. Ons moet eenvoudig weer begin wenrugby speel.

“Ons het die laaste vier jaar gesien watter soort rugby ons kan speel. Ons weet dat ons enige span in die wêreld kan klop. Dit (die nederlaag teen Japan) is geen trotse oomblik vir Suid-Afrikaanse rugby nie. Ons moet die realiteit en uitdaging aanvaar. “Só ’n nederlaag kan ’n span kwesbaar maak. Ons moet saamstaan. Ons weet ons moet dit doen. Ek glo ons het die vermoë om weer terug te veg.

“Ons is in ’n moeilike posisie op die oomblik en daar bestaan hoë verwagtinge van Suid-Afrikaanse ondersteuners dat ons moet wen. Ons moet nou hergroepeer en op die positiewe fokus.”

Die Bok-losskakel Pat Lambie het gesê sulke terugslae soos in Brighton bring altyd die beste uit die Bokke na vore. Volgens hom is dit moeilik om al die kritiek uit Suid-Afrika te ignoreer.

“Die belangrikste ding is dat al die 31 spelers nou besef dat ons ’n verantwoordelikheid het. Ons moet sake Saterdag regstel. Hopelik kan ons die kritiek Saterdag as aanmoediging gebruik,” het Lambie gesê.

 Die flank Willem Alberts kon weens sy kuitspierbesering nog nie Maandag saamoefen nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.