Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WB: Trane in Bok-kamp
Dr. Craig Roberts, die Bokke se spandokter, en Heyneke Meyer Maandag in Birmingham.Foto’s: Ssteve Haag, Gallo

BIRMINGHAM. – Die trane het glo gerol toe ’n Bok-kamp wat duidelik nog aan bom-skok ly Maandag hier ’n vurige spanvergadering gehou het.

Die Bokke het na verneem word hard en eerlik met mekaar gepraat ná die “swartste dag in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby”: die naweek se skok-nederlaag met 34-32 teen Japan in die Wêreldbeker-toernooi.

Die spanpraatjie het ’n uur langer as gebruiklik geduur.

Dit het intussen aan die lig gekom dat sekere senior spelers Saterdag nie by Heyneke Meyer se wedstrydplan gehou het nie.

Hulle en spelers wie se dissipline gepla het, moes Maandag verduidelik waarom dit gebeur het, het Die Burger verneem.

Lees ook:

Francois Pienaar sê koppe moet rol

‘Springbokke se swak vorm was die probleem’

‘Japan glo vas Wêreldbeker sal syne wees’

‘Jonges moet help om te red’

Die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Oregan Hoskins, het gesê hy is net soos die span en ondersteuners erg geskok oor wat in Brighton gebeur het. Hy beskou dit as een van die donkerste dae in die geskiedenis van Bok-rugby.

“Maar dit is nou geskiedenis en moet ons al ons aandag op die volgende wedstryd en die res van ons Wêreldbeker-veldtog rig,” het Hoskins gesê.

“Ons het uitstekende spelers en ’n bekwame bestuurspan. Ek is oortuig dat hulle die wedstryd teen Samoa nou as ’n Wêreldbeker-eindstryd sal beskou en ons ’n goeie vertoning sal sien. Die Wêreldbeker is lank nog nie verby nie,” het Hoskins gesê.

Hy en Meyer sou soos gebruiklik ná toetse die week in die spanhotel hier vergader het.

Hoewel niemand dit hardop wou sê of erken nie, lyk dit al hoe waarskynliker dat arrogansie ook ’n rol in die nederlaag teen Japan gespeel het.

Die Bokke het Japan onderskat – hoewel dit op elke nuuskonferensie ontken word.

Heyneke Meyer, afrigter van die Springbok-rugbyspan. Die foto is op 11 Junie 2014 in die Kashmir-restaurant in Durban geneem toe die Bok-span vir die toets teen Wallis aangekondig is. Foto: Gallo Images
Eddie Jones, afrigter van die Japanse rugbyspan, glimlag ingenome ten tyde van ’n nuuskonferensie Maandag in die Hilton-hotel in Brighton, Engeland, ná sy span se sege Saterdag oor die Springbokke. Foto: getty IMAGES

Hulle voorbereiding het goed verloop, maar geestelik was hulle nie reg ingestel soos voor ’n toets teen een van die grotes soos die All Black of die Wallabies nie. Die Bokke het hul aandag voor die Brighton-kragmeting daarop gerig om die Wêreldbeker te wen, teenoor Japan wat reeds die afgelope ses maande voorberei het om Suid-Afrika te klop. Die Bokke het die fout gemaak om te ver vooruit te kyk en toe gly hulle reeds op die eerste trappie.

Die Bokke was ook duidelik verroes nadat hulle op 15 Augustus laas in ’n toets voor Saterdag se wedstryd gespeel het.

Meyer kondig sy 23-tal vir die naweek se Samoa-wedstryd môre aan. Dit word verwag dat hy verskeie veranderinge sal aanbring.

Lees ook:

Suid-Afrikaners se sportmangees ‘ongelooflik’

Oues moet uit, dan kan Bokke wen, sê Gwede Mantashe

Bokke sal geskiedenis maak as hulle beker wen

Die flank Willem Alberts moes intussen ná sy kuitspierbesering fiksheidstoetse ondergaan het wat sy verdere deelname aan die toernooi kan bepaal. Daar sal vandag bekend gemaak word of hy fiks is vir die stryd teen Samoa en of hy deur Heinrich Brüssow, Marcell Coetzee, Oupa Mohoje of selfs Jacques Potgieter in die Wêreldbeker-groep vervang sal word.

Die huidige Bokspan het nou ’n eenvoudige keuse: óf hy word as die swakste span tot nog toe beskou óf hy sal deur die moontlike verowering van die Wêreldbeker as die een met die beste terugvegpoging in die geskiedenis van dié rugbyskouspel onthou word.

Ongelukkig sal die Japan-uitslag nooit uit die geskiedenisboeke verwyder kan word nie.

​Bokke sak drie plekke terug

Asof die skokloesing teen Japan Saterdag nie genoeg was nie, moes die Springbok-span boonop Maandag die bitter medisyne sluk dat hy nou teruggesak het tot die sesde plek op rugby se amptelike wêreldranglys.

Suid-Afrika se loesing het die span sy posisie onder die topdrie rugbynasies in die wêreld gekos.

Engeland het Fidji Vrydag met 35-11 in sy openingswedstryd op Twickenham geklop en neem nou die Bokke se nommerdrie-posisie op die ranglys in. Ook bo Suid-Afrika is Wallis (vierde), wat Uruguay in sy eerste WB-groepwedstryd met 54-9 afgeslag het, en Ierland (vyfde), wat Kanada met 50-7 in Cardiff se Millennium-stadion ore aangesit het.

Die All Blacks, wat ’n vasberade Argentinië Sondag met 26-16 op Wembley gestuit het, is steeds met gemak die nommereen-span ter wêreld, gevolg deur Australië, wat sy WB-rekening Woensdag teen Fidji sal open.

​Só moet hy lyk

Hendrik Cronjé, Beeld se man by die Wêreldbekertoernooi, kies die Bok-span wat hy meen Saterdag teen Samoa moet speel:

15. Willie le Roux

14. JP Pietersen

13. Jesse Kriel

12. Damian de Allende

11. Bryan Habana

10. Handré Pollard

9. Fourie du Preez

8. Duane Vermeulen

7. Schalk Burger (k)

6. Francois Louw

5. Lood de Jager

4. Eben Etzebeth

3. Jannie du Plessis

2. Bismarck du Plessis

1. Trevor Nyakane

PLAASVERVANGERS: Adriaan Strauss, Beast Mtawarira, Coenie Oosthuizen, Victor Matfield, Pieter-Steph du Toit, Rudy Paige, Pat Lambie, Lwazi Mvovo.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.