Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP gaps Bolandse kalwer uit Bul-kraal
Wilco Louw (middel) vroeër vanjaar vir die SA o.20-span in aksie teen Argentinië in Kaapstad. Foto: Ashley Vlotman | Gallo Images

Die Westelike Provinsie se jongste aanwins vir volgende jaar is die Blou Bulle se talentvolle jong vaskopstut Wilco Louw en dít kan die kwik laat styg voor Saterdag se Curriebeker-halfeindstryd op Nuweland.

Louw het die Boland in 2012 se o.18-Cravenweek verteenwoordig voordat hy besluit het om sy rugby in Pretoria te gaan speel. Hy het in al vyf die Suid-Afrikaanse o.20-span se wedstryde in vanjaar se Junior Wêreldtoernooi in Nieu-Seeland gespeel.

Dis die WP se tweede aanwins uit die Bulle se voorry-geledere nadat die haker Bongi Mbonambi se skuif Kaap toe reeds in Julie aangekondig is.

Mbonambi sal in Saterdag se halfeindstryd as die Bulle se haker begin teen wat van 1 November sy nuwe kollegas gaan wees.

Die 20-jarige Louw se skuif is nog nie amptelik aangekondig nie, maar die nuus is deur onberispelike bronne aan Die Burger bevestig.

Vir die WP is dit ’n belangrike kopie omdat die Springbok-vaskopstut Pat Cilliers en die deurwinterde Brok Harris Noordelike Halfrond toe verhuis wanneer hul kontrakte einde vandeesmaand verstryk.

Cilliers gaan hom by Montpellier in Frankryk en Harris by die Newport Gwent Dragons in Wallis aansluit.

Ondanks die koms van Louw, maak die WP nog jag op ’n ervare vaskopstut, wat in 2015 se Super-reeks saam met die Springbok Frans Malherbe vir die Stormers diens kan doen.

Malherbe sal die senior vaskop in die provinsie bly, maar ’n tweede ervare speler in dié posisie is van die uiterste belang.

 Cilliers het intussen ’n mosie van vertroue uitgespreek in die WP-loskopstut Alistair Vermaak, wat Saterdag moontlik teen twee Springbok-vaskoppe, Werner Kruger en Marcel van der Merwe, kan skrum.

Vermaak het vanjaar onverwags opgang gemaak toe hy midde-in ’n beseringskrisis by die Stormers aan die diep kant van die Super-reeks ingegooi is.

“Ali het van byna nêrens gekom en elke uitdaging voor hom getrotseer. Hy het baie druk op sy skouers gedra,” het Cilliers gesê.

Dit sal Cilliers se taak wees om die Bulle se Bok-loskopstut, Dean Greyling, by die skrums in toom te hou.

“Ons wil nie een speler uitsonder nie. Die Bulle se hele pak is sterk en ons het geweldig baie agting vir hulle,” het Cilliers gesê.

“Ons is ook bewus van die bedreiging wat Dean as baldraer inhou. Dit gaan voorlangs ’n yslike stryd wees.” 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.