Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-haker, OP-stut word Cheetahs
Neil Rautenbach

BLOEMFONTEIN. – ’n Tweede haker van die Westelike Provinsie, Neil Rautenbach, word binnekort ’n Cheetah.

Nadat Stephan Coetzee hom reeds voor die Super-reeks in die Cheetahs-kamp aangesluit het, word die 23-jarige Rautenbach nou op 1 Julie hier verwag.

Rautenbach sal egter vir die Vrystaters in die Curriebeker-reeks beskikbaar wees, terwyl Coetzee vir Griekwas sal speel.

“Die WP het aan Scarra Ntubeni en Bongi Mbonambi twee hakers van wêreldgehalte. Ek moes ’n loopbaan­besluit neem en so ’n kans om vir die Cheetahs te speel doen hom min voor,” het Rautenbach gesê.

Hy het verlede jaar die Ikeys in die Varsity­beker-eindstryd teen die Pukke verteenwoordig en was ook einde 2014 in die WP-span wat in die Curriebeker-eindstryd teen die Leeus betrokke was.

Rautenbach se Cheetahs-kontrak duur tot Oktober 2016 en sal in die Curriebeker die leemte moet help vul wat Torsten van Jaarsveld laat. Van Jaarsveld sal Namibië in die Wêreldbeker-toernooi verteenwoordig.

 Lizo Gqoboka, die enigste Vodacombeker-speler wat na die Springbokke se oefenkamp toe genooi is, kan dalk nog hierdie seisoen sy Super-buiging maak, berig Michael Green uit Port Elizabeth.

Dié 25-jarige loskopstut van die OP-Kings word ingevolge ’n ooreenkoms tussen die Kings en die Cheetahs vir die res van die Super-seisoen aan die sentrale streekspan geleen.

Die Cheetahs sukkel met ’n aantal beserings wat hulle diepte in die voorry uitgedun het.

Volgens Charl Crous, die uitvoerende hoof van die Oostelike Provinsie Rugbyunie, moet Gqoboka hom in Augustus weer by die Kings aanmeld om in die Curriebeker-reeks te speel.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.